Die eertydse koerantmaatskappy het werklik merkwaardig gegroei en ‘n mens kan maar net respek, selfs bewondering, hê vir die bestuurs- en sakevernuf waarmee Vosloo en sy kollegas die huidige “Naspers-wêreldryk” tot stand gebring het.
Sulke buitengewone materiële sukses kom meestal teen ‘n prys.
So byvoorbeeld vertel Vosloo met groot genoegdoening van Naspers se destydse stryd met en oorwinning oor die Perskor-groep en die daaropvolgende vernietiging van die Perskor-koerante.
Dit was ‘n verlies vir die land en in die besonder vir Afrikanerbelange, want die Afrikaanse koerantwese, en die verskeidenheid van insigte en menings wat voorheen daarin vervat was, het nou verskraal bloot tot die Naspers-monopolie.
In die praktyk word net één Afrikaanse koerantstem sedertdien en deesdae gehoor.
Naspers oefen dus uit hoofde van sy monopolie ‘n besonder groot invloed uit op Afrikaners se denke en politieke wil.
Kritici van Naspers beweer dat hierdie invloed en die mag wat dit verteenwoordig ongesond en buite verhouding groot is en dat, soos die spreekwoord sê: “Power corrupts and absolute power corrupts absolutely.”
Ondanks Naspers se protestasies oor sy integriteit en goeie bedoelings is daar volgens kritici uiteraard geen versekering dat insigte en praktyke (soos ‘n konformerende uniforme redaksionele beleid) wat kommersieel so goed werk vir Naspers noodwendig ook so goed is en was vir die land en veral vir die oorlewing van ‘n bedreigde Afrikanervolk wat deur hierdie koerante bedien word nie.
Of die kritici reg is en of Naspers se resep in die belang van die land in die algemeen en Afrikaners in die besonder is, sal net die tyd leer.
