Meer matrieks slaag, minder bly tot matriek

‘n Totaal van 73,9% van matriekleerlinge het die skooljaar in 2012 geslaag, het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Woensdag gesê.

Dié syfer is hoër as die 70,2% van leerlinge wat matriek in 2011 geslaag het.

Die onderwysdrukgroep Equal Education (EE) het egter sy kommer uitgespreek oor die prestasie van leerlinge, en daarop gewys dat slegs 45,2% van die leerlinge wat Graad 1 in 2001 begin het, matriek aangedurf het.

Altesaam 1 130 659 leerlinge het in 2001 by openbare skole met Graad 1 begin. Slegs 512 133 van dié leerlinge het matriek egter bereik, het die organisasie benadruk.

Intussen het die burgerregte-organisasie AfriForum sy “ernstige kommer” uitgespreek oor die aantal leerlinge wat hulle matriekjaar suksesvol voltooi het.

“Die vraag is wat van die ander leerlinge geword het en hoe die toekoms lyk wat hulle in die gesig staar,” het Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van die organisasie, gesê.

“Vir jongmense met matriek is dit reeds moeilik om werk te vind – des te meer so vir diegene wat nie eens hulle skoolloopbaan voltooi het nie.”

AfriForum het gesê hy beskou ‘n “gebrek aan moedertaalonderrig in Suid-Afrika” as een van die vernaamste redes vir die groot groep leerlinge wat tou opgooi voordat hulle hulle skoolloopbaan voltooi.

Фильчаков Александр Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae