Die ANC se 53ste verkiesingskonferensie het kort na middernag verdaag ná vertragings oor verskille oor geldigheid. Die benoemings vir die ANC se top ses is ook tot vandag uitgestel.
‘n Hewige debat is verwag te midde van twee provinsies wat dreig om ‘n interdik te kry teen die hou van die konferensie, en beskuldigings dat die leiers hulle aan minagting van die hof skuldig maak. Die Vrystaatse en Noordwes-groepe het gister ‘n brief oor die kwessie oorhandig.
Hulle sê dit is onwettig vir Vrystaatse afgevaardigdes om by die konferensie toegelaat te word asook die insluiting van Premier Ace Magashule in ‘n taakgroep om toesig te hou oor ‘n nuwe verkiesingskonferensie.
Die groep van Noordwes eis ook dat hul bewerings van ongerymdhede, met die benoemingsproses, by die konferensie bespreek word. Hulle het die ANC tot môre tyd gegee om daarop te reageer. Die Konstitusionele Hof het vroeër bevind dat die Vrystaatse verkiesingskonferensie ongeldig was.
Die Universiteit van die Vrystaat het intussen bevestig dat die ANC hom wel betaal het vir die gebruik van sy fasiliteite vir die party se 53ste verkiesingskonferensie. Die universiteit se waarnemende rektor, Dr. Choice Makhetha, sê die universiteit is ten volle betaal. Die huur beloop glo R14miljoen.
Makheta sê die media het verkeerdelik berig dat die ANC die universiteit nié betaal het nie. Sy sê die ANC is welkom op die Bloemfonteinse kampus en hulle is trots daarop dat die regerende party dié kampus vir sy konferensie gekies het.
