Europese Menseregtehof veroordeel CIA se uitleweringsprogram

Die Europese Menseregtehof het hierdie week die regte van ‘n individu wat vir byna nege jaar lank in die geheim aangehou is, nadat hy ontvoer en gemartel is onder die CIA se uitleweringsprogram, erken.

Khaled El-Masri, ‘n Duitse burger, is deur Macedoniese sekuriteitsbeamptes op 31 Desember 2003 by ‘n grenspos in hegtenis geneem en per abuis vir ‘n Al-Kaïda-verdagte aangesien. Hy is in afsondering aangehou en mishandel in Macedoniese tronke vir 23 dae lank. Dit was net die begin van sy nagmerrie-ervaring.

Die CIA het oorgeneem by Macedonië en die onskuldige man gefolter en gesodomiseer, waarna hy na Kaboel geneem is en opgesluit is in ‘n geheime gevangenis bekend as die “Salt Pit”. Daar is hy geskop, geslaan, en aan ander vorme van mishandeling onderwerp vir vier maande lank. El-Masri is gedurende die hele episode nooit aangekla nie, of selfs voor ‘n regter gebring nie, en is toegang tot sy familie of verteenwoordigers van die Duitse regering geweier.

Die CIA het uiteindelik besef dat hulle el-Masri verkeerdelik vir ‘n Al-Kaïda-verdagte met ‘n soortgelyke naam aangesien het. Nogtans het hulle hom vir weke daarna steeds onwettig gevange gehou en eers op 24 Mei 2004, in Albanië op ‘n verlate pad, sonder verduideliking vrygelaat.

In Desember 2005 het die Duitse kanselier Angela Merkel tydens ‘n perskonferensie, in die geselskap van Condoleezza Rice gesê dat die Verenigde State van Amerika erken het dit was ‘n fout. Die Amerikaanse regering het egter nooit self enige verklaring oor die aangeleentheid uitgereik nie.

El-Masri se daaropvolgende soeke na geregtigheid het herhaaldelik misluk, tot hierdie week se opspraakwekkende uitspraak deur die Europese Menseregtehof.

‘n Mate van geregtigheid tov el-Masri is herstel nadat die Hof eenparig bevind het dat Masedonië sy regte geskend het onder die Europese Konvensie. Dit is die eerste hof wat ook omvattend en spesifiek die CIA se aanhoudingstegnieke veroordeel het. Die besluit staan ​​in skrille kontras met Amerikaanse howe se weiering om die slagoffers van die Amerikaanse program te vergoed.

Beide die Verenigde State en Macedonië moet nou aan el-Masri ‘n openbare verskoning en gepaste vergoeding bied. Masedonië moet ook ‘n internasionale ondersoek van stapel stuur om sy amptenare aanspreeklik te hou vir hul optrede.

Maar Europa se werk is nog nie verby nie. Masedonië is nie die enigste Europese land wat deur die CIA se onwettige geheime program geraak word nie. ‘n Ondersoek deur die Switserse Senator Dick Marty het 14 Europese regerings uitgewys, insluitend die Verenigde Koninkryk in die CIA se “spinnerak” van bedrywighede. Met die uitsondering van Italië, waar die hoogste hof onlangs Amerikaanse en Italiaanse amptenare vir betrokkenheid in die onwettige program veroordeel het, is Litaue, Roemenië en Pole – wat geheime CIA-tronke huisves – in die spervuur.

Александр Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae