Vrae oor Dakota-vliegramp

Sasfu, die veiligheidsmagte se vakbond, sê daar is nog baie vrae oor die noodlottige ongeluk waarin ‘n militêre vliegtuig verlede naweek in die Drakensberge verongeluk het.

Ses bemanningslede en vyf passasiers is in die ongeluk dood toe ‘n C47TP-Dakota neergestort het.

Volgens die SABC het die vakbond versoek dat ‘n onafhanklike kommissie die ongeluk ondersoek, maar die weermag weier. Siphiwe Dlamini, ‘n woordvoerder vir die weermag, sê hul eie ondersoekspan is meer as bevoeg om die ondersoek uit te voer.

Nosiviwe Maphisa-Nqakula, minister van verdediging, het gesê gure weer kon tot die ramp bygedra het. 

In 2004 egter, het ‘n verslag gemaan dat opleiding en die gebrekkige toepassing van standaarde in die lugmag aangespreek behoort te word. 35 Eskader van Ysterplaat het ongeveer ‘n maand gelede sy eerste C47TP-Dakota op Mthatha se lughawe “verloor”, berig Erika Gibson in Die Burger.

‘n Verslag oor die waarskynlike oorsake tot die ongeluk op Mthatha se lughawe is volgens Gibson aan Die Burger verskaf waarin die vlieënier in die eerste vlug uitgesonder is as hoogs onbevoeg om te vlieg.

Desondanks en strydig met alle bepalings van vliegveiligheid is die vlieënier weer en weer kanse gegun om te kwalifiseer, skryf Gibson.

Die bron van die verslag het voorspel dat minstens drie kandidate ongelukke gaan veroorsaak.

“Ons was reg oor dié een – nou wag ons vir die ander twee. Daar is waarskynlik heelwat meer van hierdie gevalle as dié met wie se opleiding ons gemoeid was.”

Die verslag is geskryf terwyl kapt. M.S.M. Manaka haar vliegopleiding by die Sentrale Vliegskool Langebaanweg gedoen het.

In daardie stadium moes studente 93,8 uur vlieg. Manaka het 152,8 uur nodig gehad.

Sy het ook ‘n nuwe, meer senior instrukteur gekry om te help omdat sy gesukkel het.

Sy het gefaal om alleen op verskeie van haar vlugte te vlieg weens “gevaarlike praktyke”. Dit sluit in die tydige herstel uit sekere vliegbewegings en harde landings.

In twee belangrike toetse het sy onderskeidelik 66% en 59% behaal, vergeleke met die slaaggemiddelde van 90% en 80%.

Die verslag het tot die gevolgtrekking gekom dat: “2lt. Manaka nié oor die vermoë beskik om ‘n vlieënier te word nie.”

Ondanks die verslag is sy weer kanse gegun totdat sy haar vlerkies uiteindelik ontvang het.

Sy het ligte vliegtuie gevlieg voordat sy na 35 Eskader oorgeplaas is om haar aanpassing op die C47TP te doen. Dié vliegtuie is glo ingewikkeld om te land.

Manaka se ongeluk het tydens die landing plaasgevind toe die vliegtuig twee keer gespring het voordat dit van die aanloopbaan af geloop het. Die vliegtuig lê nog langs die aanloopbaan en gaan waarskynlik afgeskryf word.

Dit was juis deels om dié vliegtuig te gaan oppas waarom vyf veiligheidswagte op vandeesweek se rampvliegtuig was. Die lugmag het vroeër gesê hy sal nie kommentaar lewer voordat ‘n ondersoek afgehandel is nie.

Genl. Marthie Visser, woordvoerder van die lugmag, het gesê die vliegtuig is onlangs opgradeer.

прокурор Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae