Die storm het Sondagaand oor Ladysmith en omliggende gebiede uitgesak.
“Gebiede soos Acacia, Steadville, Tsakane en Modelkloof in Ladysmith word die ergste geraak. Honderde mense is dakloos gelaat,” het Dube in ‘n verklaring gesê.
Sy het ‘n nooddiensspan gelei wat Maandag slagoffers van die storm gehelp het.
Dube het aan inwoners gesê die provinsie se rampbestuurspan monitor die weer, en is gereed om aksie te neem indien nodig.
“Hierdie was inderdaad ‘n intense storm, as jy kyk hoe erg die skade is. Ons het almal in die gees van ubuntu nodig om ‘n bydrae te maak… dis tyd vir die mensdom om een te wees.”
Vier mense is beseer toe ‘n goederetrein in die Amanzimtoti-rivier naby Durban beland het toe ‘n treinspoor meegegee het weens swaar reën.
Intussen is ‘n aantal ongelukke vanoor die land aangemeld as gevolg van wyd-verspreide swaar reën. Sewe mense is dood, en nog drie word vermis, na ‘n brug op die R65 tussen Lothair en Ermelo in Mpumalanga meegegee het.
Nog vyf mense is ernstig beseer toe vier voertuie van die brug afgespoel het. Kaptein Carla Prinsloo van die polisie op Ermelo sê motoriste moet alternatiewe roetes gebruik. Reddingsdienste soek nog na die vermiste mense.
