Die Nelson Mandela-gedenksentrum het namens Mandela, die raad van trustees en die personeel hul medelye betuig met die familie van hul voorsitter, prof. Jakes Gerwel.
Gerwel het Woensdagoggend in die ouderdom van 66 in die Netcare Kuilsrivier-hospitaal gesterf.
“Ons sal diep verlang na ‘prof’, soos ons liefdevol na hom verwys het,” het die sentrum gesê.
“Ons stigter (oudpres. Mandela) het jare lank saam met prof. gewerk, deur sy presidentskap en lank ná sy aftrede.
“Toe Madiba in 1999 ná een termyn as president van Suid-Afrika uitgetree het, het professor Gerwel, sy direkteur-generaal, die kantoor van die president verlaat om by Madiba aan te sluit vir sy presidensiële werk ná sy presidentskap.
“Prof. het die Nelson Mandela-stigting se raad van trustees en personeel gelei deur ons onlangse oorgang na die Nelson Mandela-gedenksentrum.
“As uitvoerende hoof van die gedenksentrum, het mnr. Achmat Dangor gesê: ‘Ons sal sy wysheid en kalm leiding mis’.”
Die 66-jarige Gerwel was Dinsdag in ‘n kritieke toestand nadat hy vroeër vandeesmaand ‘n drievoudige hartomleidingsoperasie ondergaan het.
Gerwel is op 18 Januarie 1946 in die Oos-Kaapse dorp Somerset-Oos gebore en het aan die Hoërskool Paterson in Port Elizabeth gematrikuleer.
