Hy kon geen klaers opspoor, sê bevelvoerder

Luitenant-kolonel Schoombe van Rensburg het op Vrydag 16 November voor ‘n ondersoekkomitee van die Gautengse Wetgewer op Kleinfontein getuig dat hy nie die polisielede kon opspoor wat twee jaar gelede gekla het dat hulle toegang tot Kleinfontein geweier is omdat hulle swart is nie. Dis na aanleiding van dié klagtes wat die Gautengse Wetgewer die spesiale ondersoek-komitee in die lewe geroep het. Nuwe wetgewing maak dit vir die Wetgewer moontlik om dit te doen.

Van Rensburg is eers op 20 Augustus 2011 oorgeplaas na die Boschkop Polisiestasie nadat dié stasie ernstige probleme ondervind het met onder meer korrupsie en as een van die tien slegste polisiestasies in die land beskou is. Hy is aangestel om dinge by die stasie reg te ruk en het reeds daarin geslaag aangesien Boschkop nie meer op dié gewraakte lys verskyn nie. Hy het getuig dat hy 29 jaar se diens in die SAPD het en dat hy nog nooit dissiplinêr of krimineel vervolg is nie. “Ek het geen verskuilde agenda nie, al wat ek vra is, gee my die name, gee my die feite,” het hy gesê.

Ook Brigadier Welcome Kweyama, groephoof van Cullinan-, Bronkhorstspruit-, Ekangala-, Boschkop- en Welbekend-polisiestasies het gesê dat hy nie bewus is van ‘n situasie waar polisiemanne nie by Kleinfontein kon inkom nie.

Daar is wyd oor die ondersoek berig in onder meer Beeld en Business Day, asook op radiostasies en op TV 2 en 3. Die ondersoek het belastingbetalers meer as ‘n kwart miljoen rand uit die sak gejaag.

Фильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae