Die kans om op ‘n plaas in Suid-Afrika vermoor te word, is tussen vier en ses keer hoër as op enige ander plek in Suid-Afrika.
Dít is die bevinding van prof. Christiaan Bezuidenhout, ‘n kriminoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria, na aanleiding van statistiek oor plaasmoorde in die 2006/’07-boekjaar.
Volgens die statistiek wat vir dié 2006/’07 boekjaar beskikbaar is, is 88 boere vermoor. In dieselfde jaar is 87 polisiebeamptes vermoor, met ‘n moordsyfer van 38,6 per 100 000 wat vir die algemene publiek aangeteken is. Met 39 982 kommersiële plase wat in dié jaar opgeteken is, word die persentasie moorde op boere in daardie jaar op 220 per 100 000 mense bepaal. Vergeleke daarmee is die moordsyfer op polisiebeamptes – met 155 532 beamptes werksaam die jaar – 55,9 per 100 000.
Gegrond op die feite van die Kamer van Handel en Nywerheid wat in 2010 bevind het dat ‘n plaasmoord, wat produksie op ‘n plaas tot stilstand bring, ‘n verlies van sowat R2 miljoen aan die bruto binnelandse produk beteken. Die 88 moorde het dus ‘n verlies van R170 miljoen in die 2006/’07 jaar vir die land beteken, as aanvaar word dat die plaas ná die voorval nie meer produktief is nie.
Wie het wie se grond gesteel?
Volgens Bezuidenhout hét uitsprake deur politici ‘n invloed op plaasaanvalle, en hy meen argumente dat wit boere grond in die land gesteel het, moet gestaak word. Hy sê ‘n groot deel van die swartmense in die land is uit die Kongo afkomstig en was nie oorspronklik in die land nie. “Wie ‘t dan nou wie se grond gesteel? Die argument van boere wat die grond gesteel het, moet onmiddellik gestaak word.”
Me. Lorraine Claassen, ‘n onafhanklike kriminoloog wat spesifiek op die wreedheid van plaasaanvalle en -moorde gefokus het, sê geldelike gewin was meestal die motief vir ‘n aanval. “Ek het egter baie vrae oor die intensiteit van aanvalle en moorde wat soms met ‘n oormaat van of onnodige geweld gepaardgaan. Mense wat met pangas gekap word, met kookwater gebrand word en dies meer.”
Claassen sê nóg ‘n aspek wat haar opgeval het, is die hoeveelheid tyd wat aanvallers soms op ‘n toneel bestee. “Ek weet van ‘n oortreder wat, ná ‘n boer in sy bed doodgeskiet is, vir ure lank langs sy liggaam op die bed gelê en televisie gekyk het.”
Sy het ook gesê dat “die uitermatige vrees wat mense ervaar as hul lewe in ’n aanvaller se hande is, is verlammend en onbeskryflik. Geen mens verdien om op so ’n wreedaardige, onmenslike en onregverdige wyse vermoor te word nie.”
Eileen de Jager en Roelien Schutte, twee susters wat landwyd misdaadtonele skoonmaak, het by die bekendstelling van ’n omvattende verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut oor plaasaanvalle gesê hulle het uit ervaring gesien dat baie meer geweld in plaasaanvalle gebruik word.
