Die skietstilstand tussen Hamas en Israel om die konflik in die Gasastrook te beëindig, het Woensdagaand in werking getree ná agt dae van die hewigste gevegte in die afgelope vier jaar, terwyl die Egiptiese president Mohammed Morsi ‘n sleutelrol sal speel in die onderhandelinge.
Dit beteken dat ‘n Islamitiese leier wat weier om met Israeli’s te praat of selfs die naam van die land wil gebruik, sal bemiddel en uiteindelik homself as Israel se de facto beskermer sal aanbied.
Die ooreenkoms sal in wese aan Egipte ‘n ongekende invloedsposisie besorg in die konflik tussen Israel en Hamas, om as die arbiter te verseker dat militante vuurpylaanvalle in Israel staak en dat Israel die blokkade van Gasa en sy eie aanvalle teen Hamas stop.
Israel se premier, Benjamin Netanyahu, het gesê hy het tot die skietstilstand ingestem nadat hy met pres. Barack Obama gekonsulteer het.
In ruil vir die vertroue wat die twee lande in hom stel, het Morsi na vore getree as ‘n speler in die streek met aansien. Hy het die vertroue van die Verenigde State en Israel, wat nie soseer bekommerd is oor die opkoms van ‘n Islamitiese leier in Egipte nie, maar regdeur die week-lange Gasa-krisis hom gesien het as die figuur in staat om ‘n ooreenkoms te verkry met Gasa se Hamas-heersers.
Hy het intussen ook gesprekke met Turkye se eerste minister en die emir van Qatar, Duitsland se minister van buitelandse sake en top Arabiese amptenare gevoer om hulle te kry om agter sy bemiddeling in te val. ‘n Israeliese gesant het tewens in die geheim na Kaïro gereis vir ‘n gesprek met Egiptiese veiligheidsamptenare, alhoewel Morsi nie direk met enige Israeli’s ontmoet het nie.
Na wat berig word is Israel se aanval wat tot die dood van die Hamas-leier gelei het, gerig deur geskenke – penne en horlosies – wat die emir van Qatar aan die Hamas-leierskap gegee het tydens sy besoek aan Gasa kort voor die konflik uitgebreek het. Die geskenke het blykbaar senders bevat wat aangedui het waar die Hamas-leierskap hulself bevind.
Morsi en sy volgelinge het openlik Hamas se kant gekies, en beskuldig Israel van bomaanvalle, waarin meer as 140 Palestyne gedood is. Vyf Israeli’s is vermoor deur Hamas vuurpylaanvalle tydens die konflik
Morsi, van die fundamentalistiese Moslem-broederskap, Egipte se grootste politieke groep, is Hamas se eie moederorganisasie. Broederskapleiers, insluitend Morsi weier volstrek om met Israeliese amptenare te praat.
Maar sedert hy aan bewind gekom het, het die groep moes toegee aan pragmatisme.
Gasa is meer gevaarlik vir Morsi as die wapenstilstand nie slaag nie. Egiptenare voel sterk oor wat hulle sien as dekades van lyding deur die Palestyne aan die hand van Israel. Hul teenkanting teen Israel loop diep na vier volskaalse oorloë in ses dekades. ‘n Hervatting van die Israeliese aanvalle op Gasa, byvoorbeeld, kan Morsi in warm water met die Egiptiese publiek laat beland.
Morsi het ook te make met groeiende kritiek dat sy beheptheid met Gasa hom weghou van die druk van probleme by die huis.
Meer as 50 kinders is verlede week gedood toe hul skoolbus getref is deur ‘n trein op ‘n spoorwegkruising in die suide van Egipte, ‘n insident wat gelei het tot aanklagte van nalatigheid teen Morsi se regering.
Egipte, wat die skietstilstand bemiddel het, sal volgens die ooreenkoms wat bereik is, dus ‘n sleutelrol speel in die handhawing van vrede in Gasa.
