Die Wes-Kaapse premier het president Jacob Zuma gevra om die weermag op plase in sowat 16 dorpe te ontplooi wat deur onrus geteister word.
Sy het gereageer op die gewelddadige betogings ten gunste van hoër lone wat steeds verder uitkring in die provinsie. Zille sê Zuma behoort ook die Minister van Arbeid, Mildred Oliphant, uit die buiteland terug te roep om aandag aan die kwessie van nuwe miminumlone te gee.
Die premier sê twee mense, ‘n werker op Wolseley en ‘n boer van Wellington is nou reeds in die plaaswerkers se staking dood. Die onrus het reeds daartoe gelei dat infrastruktuur op plase en beskadig en wingerde aan die brand gesteek is.
In nog ‘n voorval van geweld op Robertson is ‘n koerantfotograaf gewond. Lulama Zenzile is na ‘n plaaslike hospitaal geneem vir behandeling nadat hy met ‘n rubberkoëel in die been gewond is. Die onrus het ook tot die sluiting van verskeie paaie gelei.
Die provinsiale verkeershoof, Kenny Africa, sê die situasie is veral chaoties op Piketberg waar plaaswerkers skure langs die pad aan die brand gesteek het. Afrika sê waar moontlik herlei van sy verkeersbeamptes mense langs alternatiewe roetes.
Boere op Robertson in die Breerivier Wynland sê hulle gaan reuse finansiële verliese ly indien die staking deur plaaswerkers voortduur.
Die bestuurder van Van Loveren Wynkelders, Phillip Retief, sê baie boere weet nie hoe hulle geoes gaan kry sonder plaaswerkers nie. Retief sê selfs met die hulp van familie en vriende sal daar net nie genoeg hande wees om alles te doen nie.
