“Die Wes-Kaapse polisie is tans ontplooi by ‘n aantal onluste wat verband hou met plaaswerkers se loongeskil, en 14 gebiede word daardeur geraak,” het lt.kol. Andre Traut in ‘n e-pos gesê.
“Die fokus is egter op De Doorns, Ceres, Robertson, Prince Alfred Hamlet en Somerset-Wes.”
Traut het die publiek gewaarsku om uiters versigtig te wees in landelike gebiede, en om gebiede waar daar tekens van onluste is, te vermy.
Die polisie sal in al dié gebiede bly en “die nodige aksie neem teen enige geweld of onluste”.
‘n Polisiebeampte is Dinsdag beseer toe ‘n stakende plaaswerker ‘n klip na hom geslinger het.
Die beampte het ‘n kopbesering opgedoen en is in ‘n hospitaal opgeneem, het Traut gesê.
Die polisie het bevestig dat ‘n 28-jarige man in onluste in Wolseley in die Witzenberg-streek dood is. Volgens onbevestigde berigte het die man gesterf ná hy deur die polisie geskiet is.
Die polisie het bevestig dat die saak deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekende Direktoraat (Opod) ondersoek word, maar het nie nadere inligting verskaf nie.
Vyf ander mense is in dieselfde insident beseer, het lt.kol. Andrè Traut in ‘n verklaring gesê.
‘n Fotograaf is glo beseer toe hy foto’s by Ashton geneem het. Hy is na bewering in die Robertson-hospitaal opgeneem nadat ‘n klip hom in die gesig getref het.
Lt.kol. André Traut het in ‘n verklaring die verwikkelings as “kommerwekkend” bestempel, en gesê “dis regverdig om te erken” dat die polisie se reaksietyd “deur die situasie in die gedrang gestel en geraak word.”
