Motoriste hoef nie gewone posboetes te betaal nie

Die minister van vervoer, mnr. Sbu Ndebele, het in ‘n antwoord op ‘n vraag van adv. Anton Alberts in die parlement weer eens bevestig dat geen kennisgewing van padverkeersoortredings per gewone pos afgelewer mag word nie, maar ingevolge artikel 30 van die wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings, (AARTO), wet 46 van 1998, slegs per geregistreerde pos of persoonlike betekening afgelewer kan word. Enige ander vorm van betekening maak die proses onwettig en die boete onbetaalbaar. “Die effek hiervan is dat almal wat betaling gemaak het sonder behoorlike betekening hulle geld kan terugeis,” het adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, gesê.

“Die minister het ook bevestig dat ingevolge artikel 20 geen lisensie teruggehou mag word sonder dat die korrekte prosedure gevolg is soos voorgeskryf deur AARTO nie. So ‘n stap kan slegs geneem word na ‘n afdwingingsbevel deur die padverkeersoortredings-agentskap (RTIA) uitgereik is. Dit blyk dat geen sodanige bevel deur RTIA uitgereik is nie en daarom is die gebruik deur verkeersowerhede om te weier om lisensies uit te reik, ook onwettig,” het Alberts verduidelik.

Die minister het dit baie duidelik in sy antwoord gestel dat niemand vir uitstaande AARTO-boetes gearresteer kan word nie. Daarom is die voorkeer en aanhouding van motoriste by veral padblokkades vir uitstaande AARTO-boetes onwettig en moet mense wat op die wyse gedwing word om boetes te betaal, eise vir onregmatige arrestasie instel en hulle betalings terugeis.

“Dit is tyd dat die publiek sy rug styfmaak teen die staat se onwettige optrede en intimidasie en die staat dwing om sy eie wette na te kom. Die VF Plus ondersoek daarom die moontlikheid om ‘n aksie in te stel om alle onwettige boetes te laat terugbetaal aan motoriste,” het adv. Alberts bygevoeg.

топкарго развод

Maak 'n opvolg-bydrae