Mandela-noot reeds vervals

Die eienaar van ‘n drankwinkel in Landanna, Polokwane, waarsku dat die nuwe banknote wat onlangs deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank vrygestel is, reeds deur skelms vervals is.

Cuan Crouch, eienaar van New Era Bottelstoor, het gesê hy het Woensdagaand toe hy die daaglikse rekonsiliasies begin doen, ‘n vals R100-noot opgemerk. “Die note is maar slegs ‘n paar dae op die mark – as jy vinnig daarna kyk sien jy nie sommer die verskil tussen die valse noot en die regte een nie. Maar wanneer jy dit mooi bestudeer sien jy die verskille dadelik raak,” het Crouch gesê.

Volgens Crouch moet eienaars van besighede waar dit elke dag besig is of vol is, ekstra versigtig wees, want dis veral by sulke winkels waar die skelms kanse waag.
Hy verduidelik: “Wanneer ‘n winkel besig is en die toue lank is wil ‘n mens vinnig beweeg, en jy kyk nie sommer of die banknote vals is of nie.

“Maar met die nuwe banknote raai ek aan dat die kassiere maar eers mooi na die geld kyk al is die toue lank, want met elke R100 is die winkel se wins minder”.

Die nuwe banknote het oud-president Nelson Mandela se gesig op die voorkant van die note en agter op die note is die groot vyf: die renoster, olifant, leeu, buffel en luiperd.

Die Suid-Afrikaanse wapen is prominent in die boonste linkerhoek van die banknote.

Die wapen is ook sigbaar in die watermerk as ‘n holografiese beeld.

‘n Vertaling van die woorde “Suid-Afrikaanse Reserwebank” staan op die agterkant van elke nuwe banknoot in twee amptelike Suid-Afrikaanse tale: Die R10-noot is Afrikaans en siSwati, R20 is Setswana en isiNdebele, R50 is isiXhosa en Tshivenda, R100 Sepedi en Xitsonga en R200 is Sesotho en isiZulu.

Kenmerke op die nuwe banknote wanneer dit teen die lig gehou word:
• ‘n Prent van Nelson Mandela verskyn op die watermerk.
• Die dier op die agterkant van die banknote sal deurskynend voorkom.
• Die unieke reeksnommers, wat bestaan uit letters en nommers, is gedruk op die agterkant van alle nuwe banknote. ‘n Vertikale nommer is op die linkerkant en ‘n horisontale nommer op die boonste regterkant.

Die nuwe banknote voel hard en sterker as vals note. Daar is lyntjies wat duidelik gevoel kan word onder voor op die banknote op die linker- en regterkant. Elke noot het ‘n verskillende hoeveelheid lyntjies: R10 het een lyn, R20 twee lyne, R50 drie lyne, R100 vier lyne, en die R200 het vyf lyne.

Wanneer die nuwe banknote horisontaal gehou word, kan ‘n mens die versteekte prent van Nelson Mandela sien en ook die denominasiesyfer in die band onder die beeld van die voormalige president.

Die provinsiale skakelbeampte vir die polisie, kol. Ronel Otto het gesê die polisie het tot dusver slegs van dié een geval gehoor.

лобановский александр биография

Maak 'n opvolg-bydrae