“Die aantal huise wat verwoes of beskadig is deur gisteraand se brand, is op 76 gestel,” het Laura-Leigh Randall, ‘n woordvoerder, gesê.
“Die oorsaak van die brand is op die oomblik onbekend, maar die SAPD se forensiese eenheid sal ondersoek instel.”
Die munisipaliteit het vroeër geraam dat meer as 100 huise beskadig is.
Die brand is Sondagaand kort voor middernag gedeeltelik geblus.
Tien brandweerwaens is gebruik om die brand te blus en nóg versterkings van die Nelson Mandelabaai- en Koukamma-munisipaliteit is ingeroep om te help, het Randall gesê.
“Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, maar die brand het omstreeks 17:30 by die Royal Wharf-ontwikkeling, wat meestal dorpshuise is, begin.”
Inwoners in die gebied is gevra om hul huise te ontruim en ‘n gesamentlike operasiesentrum by die plaaslike polisiekantoor sal die situasie monitor.
Die meeste van die huise in die gebied is vakansiehuise en die presiese aantal huise wat afgebrand is, is nie bekend nie.
“Geen finale syfers oor die skade is bekend nie. Ons sal vandag [Maandag] ‘n skadebepaling doen,” het Randall gesê.
Alexander Forbes het reeds eise van nagenoeg R30 miljoen ontvang van inwoners van St.Francisbaai wat deur ‘n verwoestende brand geraak is, berig Eyewitness News.
Twee brandbestryders het ligte beserings opgedoen en is Maandag uit die hospitaal ontslaan.
Colin Mchunu, woordvoerder van Alexander Forbes, het gesê: “Die eise stroom in sedert vanoggend [Maandag]. Ons beraming is sowat R30 miljoen in skade van slegs die totale verlies van huishoudelike inhoud.”
