‘n Saak van roekelose bestuur is op 29 Oktober geopen na ‘n botsing tussen ‘n maroen Renault Cleo en die Roodepoort SAPD se personeelbussie in Sonopstraat.
Volgens kolonel Chris Wilken van die Roodepoort SAPD het die bestuurder van die polisievoertuig in ‘n verklaring verduidelik dat hy by ‘n stopteken in Sonopstraat gestop het voordat die ongeluk gebeur het.
“Volgens die bestuurder het hy by die stopstraat gestop en in albei rigtings gekyk voordat hy die pad oorgesteek het,” sê Wilken.
In die bestuurder se verklaring bevestig hy dat hy in die middel van die pad was toe die maroen motor in sy rigting gery kom.
“Hy sê dat hy tot op daardie stadium glad nie die motor gesien het nie,” sê Wilken.
Volgens die Record se waarneming het die maroen voertuig ten die tye van die ongeluk ryvoorrang gehad omdat hy in ‘n westelike rigting verby die punt gery het waar die polisievoertuig moes stop.
Wilken verduidelik egter dat die verloop van die saak nog bepaal moet word.
“Die dossier sal teen Maandag 12 November die aanklaer se kantoor bereik, waarna meer inligting bekend gemaak sal word,” sê Wilken.
