Marikana: Slagoffers was geboei

Van die betogers wat in Augustus in Marikana doodgeskiet is, het glo boeie aan gehad, het die Farlam-kommissie Maandag gehoor.

Dali Mpofu, regsverteenwoordiger van Lonmin-mynwerkers wat by Marikana beseer of in hegtenis geneem is, het kapt. Apollo Mohlaki, ‘n misdaadtoneel-kenner, ondervra.

Mohlaki het gesê hy het nie self gesien dat van die slagoffers geboei was nie, maar het toegegee dat dit so lyk op ‘n video wat aan die kommissie vertoon is.

“Ek het dit nooit by die misdaadtoneel gesien nie. Ek het nie na individuele lyke gegaan om te kyk wie geboei is en wie beseer is nie,” het Mohlaki gesê.

“As ek na die video kyk, lyk dit of daar iemand is wat dalk geboei kon gewees het, maar ek het dit nie op die dag raakgesien nie.”

Vier-en-dertig mynwerkers is op 16 Augustus doodgeskiet toe die polisie op hulle losgebrand het tydens gewelddadige betogings buite Lonmin se myn in Marikana.

Die kommissie, wat gelei word deur die afgetrede regter Ian Farlam, is aangestel om die voorval te ondersoek.

Farlam het voor die videovertoning aan die families gesê dat die beeldmateriaal baie ontstellend is, en dat hulle die gebou kan verlaat as hulle sou wil.

‘n Gelag was hoorbaar aan die einde van die video, maar dit was nie duidelik wie gelag het nie.

лобановский депутат

Maak 'n opvolg-bydrae