Mnr. Jaap Kelder, die bekende munisipale aktivis en Afrikanerleier, het so pas beslag gelê op ‘n voertuig wat aan die Ekurhuleni-munisipaliteit behoort. ‘n Mercedes-Vito-bussie met die registrasienommer SFX904GP sal nou opgeveil word om die R16 425 wat die munisipaliteit mnr. Kelder skuld, te delg.
Die skuld het oorspronklik ontstaan omdat Ekurhuleni mnr. Kelder se elektrisiteit by sy sakeperseel in Edenvale “onwettig afgesny het”. Hierna het mnr. Kelder die munisipaliteit vir skadevergoeding gedagvaar.
Selfs nadat die hofbevel teen Ekurhuleni verkry is, het hulle nie die R16 425 betaal nie. In ‘n epos vra mnr. Jaap Kelder: “Sou dit werkilk moontlik wees dat die tweede grootste munisipale metro in die land se finansies so beroerd is dat hulle bates verkoop moet word om skulde te betaal en dít dan agv. die feit dat hulle my fabriek se krag onwettig afgesny het of sou dit wees dat hulle administrasie so swak is dat hulle duisende rande aan regskoste onnodig verspil?”
Mnr. Kelder is ook voorsitter van die nasionale belastingbetalersunie wat reeds meer as 40 hofsake teen munisipaliteite landwyd gevoer het ten einde belastingbetalers se regte af te dwing en korrupsie en wanbestuur hok te slaan. PRAAG en die NBU het verlede jaar in September ‘n groot Afrikanervergadering in Centurion gereël wat op die sogenaamde “Strategiese Komitee” van alle Afrikaanse organisasies uitgeloop het.
Eerskomende Saterdag 3 November vind daar weereens in Pretoria ‘n geslote vergadering van alle Afrikaanse organisasies plaas wat deur die Strategiese Komitee gereël is.
Nog ‘n lid van die SK, mnr. Botha Laubscher, vertel dat daar ook op Heilbron gereeld skuldinvorderingsake teen die plaaslike munisipaliteit gevoer word. By geleentheid het die balju al op die raadsaal se meubels beslag gelê, maar voordat dié op ‘n veiling verkoop kon word, is die skuld vereffen.
