Jonathan Jansen gooi die hele vark

Namate ‘n mens ouer word, word dit al hoe makliker om kanse te vat wanneer bewerings oor die verlede gemaak word. Baie van die mense wat van beter geweet het en dus wilde stellings kon teëspreek, kan dit nie meer doen nie omdat hulle dood is.

Jonathan Jansen is ‘n rubriekskrywer in Media24 se koerante. In Die Burger heet sy rubriek “Kennis in die bloed”, na aanleiding van die titel van een van sy boeke. In daardie boek word blankes en veral Afrikaners vir hewige kritiek uitgesonder. Sy jongste rubriek toon nogeens dat heelwat doelbewuste verdraaiings in omloop in sy kennisbloed is.

As rubriekskrywer moet Jansen kort-kort teks aan die koerante lewer. Om by die spertyd te hou en by gebrek aan iets beter, het hy hierdie keer (Die Burger, 30 Oktober, p 12) in die openbare pers herhaal wat hy in ‘n huldeblyk aan ‘n klein, ontvanklike gehoor opgedis het. Die probleem, vir Jansen, is dat ek oor eerstehandse kennis beskik waarmee ek hom gesaghebbend kan teëspreek.

Die onderwerp van Jansen se rubriek is die destydse Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en spesifiek ‘n dierkunde-dosent, Cecil John Leonard. Ek vermoed dat Jansen die volle voorname verskaf om aan te toon hoe Engels Leonard was, terwyl hy in werklikheid, soos die meeste bruines destyds, veeleerder Afrikaans was. Dit hinder my dat Jansen, as iemand wat in die akademie werksaam is en dus van beter behoort te weet, van “lektore” praat wanneer hy na dosente (“lecturers”) verwys.

Oor Afrikaans het Jansen egter vir hom ‘n agterdeur geskep. Volgens sy outobiografiese boek, waarna hierbo verwys is, is dit baie duidelik dat sy moedertaal Afrikaans is. Deesdae beweer hy heel vindingryk, soos dit iemand betaam wat lank in Amerika studeer het, dat sy “eerste taal” Engels is. As rektor en natuurlik ook om politieke redes is Engels sy voorkeurtaal vir die Universiteit Vrystaat, ‘n eens trotse eentalige Afrikaanse akademiese inrigting.

In sy rubriek dateer Jansen sy oorwegende Engelsheid terug na die vroeë jare sewentig toe hy ‘n UWK-student was. “Ek was nie formele Afrikaans magtig nie en het nie wetenskap in Afrikaans verstaan nie.” Die UWK was destyds, anders as sy huidige eentalige Engelsheid, ‘n tweetalige inrigting. Toe reeds het baie van die bruin studente, al het hulle van bv Garies of Koekenaap gekom, voorgegee dat hulle eintlik Engels is. Die meerderheid studente was oorwegend Afrikaans en hulle was stilswyend baie dankbaar dat die lesings ook (en soms veral) in Afrikaans aangebied is.

Die UWK het destyds oor ‘n dosentekorps beskik wat oor die algemeen akademies uiters bekwaam was. Beter dosente as aan die ander universiteite vir nie-wittes is getrek omdat die UWK in ‘n stedelike gebied, Bellville-Suid, geleë is. Jansen se akademiese grondslag in die natuurwetenskappe is hier gelê. Feitlik al die UWK-studente het beurse van die “apartheidsregime” ontvang, al word dit deesdae nooit erken nie. In die nuwe Suid-Afrika betaam dit daardie studente ook nie om dankie te sê vir die uitstekende akademiese onderrig wat hulle ontvang het nie.

(Anders as die voltydse student Jansen, was ek as witte verplig om deeltyds aan Unisa te studeer. Anders as die “benadeelde” Jansen, wat ses jaar lank met beurse in Amerika studeer het voordat hy ‘n doktorsgraad kon voltooi, was ek as ‘n “bevoordeelde” verplig om op eie koste in Amerika te studeer en ‘n doktorsgraad in agtien maande te behaal. Anders as Jansen het ek in Amerika nie vrye tyd gehad nie en ook nie, soos hy, aan betogings teen Suid-Afrika deelgeneem nie.)

Wat skryf Jansen oor sy voorregte as UWK-student? Dat dit “‘n misrabele bestaan” was. “Die lesings is dikwels deur polisiegeweld en protesoptrede onderbreek.” Wie het pleks van te studeer eerder geprotesteer, klippe gegooi en geboue aan die brand gesteek? Die gesubsidieerde studente. Volgens Jansen was sommige dosente “ongevoelige rassiste”. Die UWK word beskryf as ‘n “verstikkende omgewing” wat “deur die apartheidsbase beheer” is.

Destyds was uitstekende openbare vervoer, sowel trein- as busdienste, aan die UWK-studente beskikbaar. Baie studente het egter verkies om te ryloop, op die gevaar af dat hulle laat vir klasse kon wees. Die “apartheidsregime” het ‘n spesiale spoorwegstasie aangrensend aan die UWK-kampus gebou. Dit is hoogs onwaarskynlik dat Jansen sulke erge vervoerprobleme na sy woonplek in Retreat ondervind het as wat hy in sy rubriek voorgee.

Maar hoeveel lesers het die agtergrondskennis om te besef dat wanneer Jansen vir Leonard goedpraat, hy by implikasie homself komplimenteer? Voordat Leonard ‘n dosent geword het, was hy, soos Jansen, ‘n biologie-onderwyser. Soos Jansen het Leonard danksy beursgeld in Amerika studeer. Maar anders as Jansen het Leonard sonder ‘n doktorsgraad van Amerika af teruggekeer en dié graad eers later plaaslik verwerf. Dit maak Jansen eintlik akademies beter as Leonard, hoewel laasgenoemde ‘n baie korter tyd as Jansen in Amerika studeer het.

Dit is algemeen bekend dat dit vir nie-wittes om politieke eerder as akademiese redes baie makliker as vir wittes was om buitelandse, veral Amerikaanse, studiebeurse te kry. Jansen verwys egter na die beurstoekenning aan Leonard as “die ongelooflike prestasies van hierdie grootse mens”. ‘n Ander doelbewuste verdraaiing is dat Jansen maak asof “professor” Leonard sy dierkunde-dosent was, terwyl Leonard toe (die vroeë jare sewentig) ‘n junior UWK-dosent was.

Jansen erken sy gebrekkige toewyding as student deur te vertel van “halfhartige, onvoltooide werk” wat hy by Leonard ingelewer het. Leonard het hom hieroor aangespreek en dit, glo Jansen, het hom op die spoor van sy suksesvolle akademiese loopbaan geplaas. Maar wat sou Jansen se reaksie gewees het as ‘n wit dosent hom kortgevat het? Hiervan het hy voorheen ‘n aanduiding gegee. ‘n Chemie-dosent aan die UWK, ‘n professor, het Jansen by geleentheid bywoning van sy klas verbied omdat hy laat was. Jansen het hom nie geloof omdat hy gehelp het om hom op die regte pad te plaas nie. Dekades later het Jansen dit wenslik geag om sy rubriek te misbruik om hierdie uitnemende akademikus as een van die bogenoemde “ongevoelige rassiste” te etiketteer.

As iemand in die goeie ou dae erg gelieg het, het ons gesê dat hy nie spek skiet nie, maar sommer met die hele vark gooi.

лобановский александр интервью

Maak 'n opvolg-bydrae