“Ons het ‘n patroon raakgesien wat gekenmerk word deur baie dinge… die slagoffers in hierdie saak word met soveel minagting behandel dat ons nie kan voortgaan nie,” het adv. Dali Mpofu aan die voorsitter van die kommissie, die afgetrede regter Ian Farlam, gesê.
“Die regering weier om verteenwoordigers van die slagoffers te ondersteun… selfs met logistieke bystand.”
Die polisie het op 16 Augustus tydens ‘n gewelddadige staking by Marikana naby Rustenburg op mynwerkers geskiet. Daar is 34 mynwerkers dood en 78 gewond.
Die werkers het knopkieries, pangas, stokke en ysterpype by hulle gedra.
Mpofu verteenwoordig 78 werkers wat in die voorval beseer is, en 275 mynwerkers wat ná die skietery in hegtenis geneem is.
Mpofu het gesê hy het Legal Aid SA genader vir moontlike finansiële ondersteuning vir die mynwerkers.
“Ons het [Maandag] ‘n baie kras antwoord gekry wat sê hulle sal nie die saak befonds nie.”
Die kommissie het drie groepe slagoffers geïdentifiseer: families van die werkers wat gesterf het, die werkers wat in hegtenis geneem is, en die beseerdes.
“Ja, natuurlik word diegene wat familielede verloor het die ergste geraak,” het hy gesê. “[Maar] diegene wat beseer is, is net so getraumatiseerd.”
Mpofu het ook gesê die beskuldigdes word onregverdig behandel.
