Openbare vervoer in Kaapstad, insluitend busse, taxi’s en treine, sal voortaan deur ‘n enkele owerheid bestuur word. Pendelaars sal met een kaart van al drie soorte vervoer gebruik kan maak.
Die burgemeester, Patricia de Lille het by die bekendstelling van die Geïntegreerde Openbare Vervoerowerheid gesê die grootste gedeelte van die finansiële hulpbronne wat van die regering ontvang is, sal gebruik word om openbare vervoer-infrastruktuur in arm gemeenskappe te verbeter.
Die uitvoerende hoof van die Passasierspooragentskap, PRASA, Lucky Montana, sê Kaapstad en die Wes-Kaap het bewys dat hulle daartoe verbind is om openbare vervoerkwessies aan te pak.
Hy het by dieselfde geleentheid gesê ‘n funksionele openbare vervoerstelsel is van die uiterste belang vir groei. Montana sê PRASA en Metrorail sal die stad ondersteun in sy poging om ‘n geïntegreerde openbare vervoerstelsel te skep.
