Pa en seun klits plaasaanvaller

‘n Dapper pa en seun van Keerom naby Middelburg, kon Vrydagaand midde in ‘n koeëlreën daarin slaag om ‘n gewapende aanvaller, wat op ‘n buurplaas toegeslaan het, te ontwapen.

Mnr. Johan van Rensburg het Maandag op sy plaas vertel dat die man aanhou skiet het nadat sy seun Hansie hom met sy 9mm pistool in die voet geskiet het.

Twee van sy makkers het ontvlug en die teiken van die plaasaanval, mnr. Willem Cloete (28), hul buurman, sê dat hy ‘n vierde aanvaller gesien het by sy huis voor Johan en Hansie opgedaag en hulle met sy Land Cruiser en kollig verjaag het.

Mnr. Cloete sê dat hy omstreeks 22:00 een van sy honde snaaks hoor blaf het.

Hy het deur die blinders in die sitkamer geloer en ‘n skaduwee langs die ruit agter ‘n struik opgemerk.

Hy het vir Hansie gebel en gesê hy vermoed daar is booswigte in sy omheinde erf.

Mnr. Cloete se bejaarde ma, wat sowat 300 meter verder woon, was alleen tuis omdat sy pa in Pretoria in die hospitaal is.

“Gelukkig het hulle nie daar toegeslaan nie,” het mnr. Van Rensburg (senior) in die melkery op sy plaas met krukke onder die arm vertel.

Hy is twee maal in die linkerbeen gewond en een maal in die regterbeen.

“Ons het drie van die aanvallers die veld in gevolg waar twee weggebreek het van hul makker.”

Hulle het op die een aanvaller gefokus en Hansie, wat die kollig agter op die Cruiser beman het, kon daarin slaag om die man in die voet te skiet.

Die man het neergeval, op sy rug gaan lê en talle skote na Johan in die kajuit gevuur.

Sy vlugtende makker het in die hardloop aanhou skiet na Johan en Hansie en twee groot kaliber koeëlgate kon Maandag deur die Observer op die bakwerk gesien word, waar dit tussen sewe ander kleiner gate, wat met die verwonde se 32 rondte Baretta wapen veroorsaak is, deur is.

Hansie het die swarte in die veld geboei en sê hy was baie verwaand.

Hy het eers ontken dat hy ‘n wapen het maar later tog toegegee waarna Hansie die Baretta so drie meter verder in die gras opgetel het.

Die man, wat in polisie-aanhouding is, het gesê dat daar altesaam tien aanvallers was.

Hulle het oor ‘n hoekpaal in Willem se erf oor ‘n houtleer geklouter en die huis omsingel.

Willem het ‘n tweede keer vir Hansie gebel en gesê hulle brand iets by sy sitkamerruit en dat hulle gou moes kom.

“Ek vermoed dat hulle muti gebrand het,” het Willem Maandag vertel en bygelas dat hy dit oorweeg om die hulp van ‘n privaat speurder in te roep om die ander aanvallers te help opspoor.

“Ek het die man wat ons aangekeer het se selfoon gehad en omstreeks 22:30 het die foon reeds begin lui,” vertel Hansie.

Talle oproepe is na die nommer gemaak.

Hy het die volgende dag sy huishulp gevra om te antwoord en te sê sy het die foon by Doornkop opgetel.

“Die man aan die anderkant het vir haar gesê om die foon aan te hou vir latere instruksies.

Saterdag is die foon aan die polisie oorhandig en is hulle meegedeel dat die wapen wat by die man gevind is, eksklusief deur die weermag uitgereik word.

‘n Balaklawamus is ook deur Johan op pad hospitaal toe by ‘n naburige plaashek opgemerk.

Die polisie, wat ongeveer twee ure later eers opgedaag het, het ‘n snuffelhond losgelaat maar dié kon geen spoor vind nie.

Terwyl die skietery kilometers van sy huis af die nagstilte verbreek het, het Willem met sy eie wapen by sy 33-weke swanger vrou gewaak.

Buiten sakkies en koeldrankproppies wat strategies om sy huis neegesit en vasgebind was, was daar ook ‘n rooi spuitverf kol langs Willem se badkamerruit aangebring.

“Iemand het seker gemaak hulle weet waar om te gaan,” glo Willem.

topcargo отзыв

Maak 'n opvolg-bydrae