Joemat-Pettersson het reageer op ‘n ‘n aantal vrae deur lede van die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye. Sy het opposisiepartye en die media oor die kole gehaal.
“Daar is nie R800 miljoen wat opsygesit is nie, ook nie R100 miljoen wat toegeken is nie, so as sommige politieke partye soos die Demokratiese Alliansie en die media [die departement van] landbou wil bestuur… ons sal nie toelaat dat ons agenda deur die DA en die media bepaal word nie,” het sy gesê.
Joemat-Pettersson se uitlatings volg ná LP’s van verskeie partye haar gevra het om aan te dui of haar departement fondse vir pres. Jacob Zuma se woning opsygesit het ten koste van arm landelike gebiede.
“Sê vir ons hoeveel geld jy opsygesit het om die president se belange te dien ten koste van die algemene publiek van Suid-Afrika?” het die Cope-LP Nqaba Bhanga gevra.
Joemat-Pettersson het enige bewerings dat haar departement geld aan die Nkandla-projek sou skenk bestempel as “gerugte wat van alle waarheid ontbloot is”.
