Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, en die Nederlandse joernalis Fred de Vries het ‘n “gesprek” by Aardklop se Diskoersreeks gehou om die invloed wat Praag uitoefen te probeer terugsnoei.
Die mediamonopolie het oudergewoonte die geleentheid geborg om die skyn van ‘n hegte en gemeenskaplike basis te bevorder. De Vries, skrywer van Rigtingbedonnerd, wat handel oor hedendaagse Afrikaners, se “insigte” is met groot ywer deur Spies verwelkom.
Volgens De Vries sukkel die Afrikaners om magsverlies te hanteer. Dis ‘n stokou idee wat al jare gelede inderhaas deur die mediamonopolie laat vaar is as nutteloos om die vervreemding en uitwissingsgevaar wat Afrikaners in die gesig staar, te verklaar. Hulle kon destyds nie een van hulle lesers daarvan oortuig nie, soos met vele ander van hul sinnelose oorredingsprojekte.
Hoe Spies sulke onsin kon “verwelkom” gaan in elk geval die verstand te bowe. Spies is self betrokke by die talle hofsake wat Afrikaanse skole uit nood moet veg om die etos en taal van onderrig te probeer red. Weet Afriforum se betalende lede dat dit eintlik om hul “persepsies van magsverlies” gaan? Ons het nog altyd gedink dit was werklike probleme!
Van die monopolie se ander sosiogeniëringsinisiatiewe was dat Afrikaners nie meer bestaan nie en intussen vervang is deur “Afrikaanses”. Dié naamsverandering is kennelik nou laat vaar, want beide Spies en De Vries – dit klink soos ‘n grapjas-item met die name wat rym – het dit oor, let wel, Afrikaners in die besonder.
Volgens De Vries val die Afrikaners in Suid-Afrika redelik maklik in by rasse-integrasie in veral die kerk en werkplek, maar is Afrikaners tuis nogtans kultuurvas. Afrikaners in die buiteland sukkel volgens hom meer met rasse-integrasie.
Net De Vries sal weet hoekom hy so kranig probeer inpas by die monopolie se voorskrifte. Het hy dalk ontdek dat hy tussen hulle die nodige vryheid geniet om Afrikaners te kan beledig onder die beste aanmoediging ooit?
Spies beskou De Vries se boek as “‘n plesier om te lees”. Hy het ‘n paar eienskappe van die hedendaagse Afrikaner uitgestippel. Spies het die gehoor herinner dat Afrikaners nou in die partypolitiek saamstaan soos nog nooit tevore nie: Sowat 94% van Afrikaners stem vir die DA. Hy het natuurlik vergeet om die mediamonopolie vir hul eensydige bydrae te bedank.
Wat Spies betref het Afrikaners, in die naloop van hul magsverlies, die politiek uitgekontrakteer aan liberales “wat weet hoe om ten beste in ‘n sekulêre grondwetlike staat te funksioneer”. Jan-Jan Joubert, Naspers se Goebbels, het homself heerlik verlekker in dié mededeling, aangesien hy blykbaar glo dat hy een van daardie uitverkore liberales is wat so navolgingswaardig moet wees.
Nie JJJ se menings of begripsvermoë kwalifiseer vir die titel nie, maar in die land van die blindes… JJJ is nader aan ‘n Jimmy Kruger want die Afrikaners se lot laat hom duidelik koud.
Die groeiende Nederlandse bewustheid van Afrikaans en Afrikaners is volgens De Vries ‘n probleem aangesien die regse Partij voor de Vrijheid dit dryf. Praag se sporadiese skakeling met die PVV is natuurlik nie, soos gewoonlik, by name genoem nie.
Solidariteit se Flip Buys het bloot die “gevaar” van populiste uitgelig, met verwysing na die stakings.
Die sakeman Laurie Dippenaar meen die klem sal in die politiek algaande meer val op gemeenskaplike waardestelsels as die verlede se verdelingslyne. Net Dippenaar sal weet waar hy aan hierdie wêreldvreemde perdevy kom, maar dit was, net soos die Spies/De Vries-opvoering, nog musiek in die monopolie se ore.
