Sheryl Cwele en haar medebeskuldigde se tronkstraf is tot 20 jaar verleng, danksy die voorgesette ywer van ‘n wit ma.
Cwele, die voormalige vrou van die minister van Staatsveiligheid, Siyabonga Cwele, en Frank Nabolisa, ‘n Nigeriese burger, het saamgesweer om dwelms te verhandel en is ook skuldig aan aanhitsing tot die handel in gevaarlike middels.
Cwele het die werwing van ‘n wit meisie, Tessa Beetge, wat byna agt jaar tronkstraf in Brasilië uitdien, behartig, asook die van Charmaine Moss, ‘n ander staatsgetuie. Beetge se ma het die saak teen Cwele gedryf.
Sheryl Cwele en Frank Nabolisa is in Mei 2011 aan dwelmhandel skuldig bevind. Hulle is aanvanklik tot twaalf jaar tronkstraf gevonnis.
Cwele (50) het teen haar skuldbevinding geappelleer, terwyl Nabolisa teen sy skuldbevinding en vonnis appèl aangeteken het.
Volgens die hof het Nabolisa Beetge gestuur na Suid-Amerika om kokaïen in te samel en dit terug te bring na Suid-Afrika. “Dit is die enigste redelike afleiding uit die totaliteit van die bewese feite,” het die regter gesê.
Die Appèlhof het bevind dat Cwele as ‘n gekwalifiseerde verpleegkundige moes geweet het van die inherente gevare van die gebruik van dwelms.
“Tog was sy ‘n gewillige meeloper in die pleging van die misdaad, wat bevriend geraak het met en kwesbare vroue in die bevordering van die kriminele onderneming gejag het.”
Die regter het gesê die “afleiding was onomwonde [dwingend]” dat Cwele moes geweet het dat Beetge gevra is om kokaïen na Suid-Afrika te bring.
