Op ‘n vraag van mnr. André Fourie, raadslid vir die VF Plus in Stad Kaapstad, het die DA se burgemeester Patricia de Lille bevestig dat die Wes-Kaap demografiese syfers en nie die nasionale syfers as riglyn gebruik word.
Wat egter skokkend is, is dat terwyl die demografiese syfers 22% swart aandui daar alreeds 26.6% swartmense op die diensstaat van die Stad is – 4.6% meer as die kwota en terwyl die demografiese syfers 18% wit aandui, daar slegs 12.7% witmense op die diensstaat van die Stad is. Dit is 5.3% onder die kwota. Die bruin mense trek gelyk: 60% demografies en 60% op die diensstaat.
In ‘n opvolg vraag van mnr. André Fourie waarom daar blatant teen witmense in terme van die DA se eie riglyne gediskrimineer word en of die DA-bewind regstellende aksie ten gunste van witmense sal implementeer om die balans te herstel, wou sy weet waar hy die laaste 350 jaar was, of hy familie van Jan van Riebeeck van Holland is en dat hy liewer sy tasse moet pak en die land moet verlaat.
Regstellende aksie-syfers wat aan die parlement vrygestel is vir die Departement Binnelandse Sake, blyk dieselfde tendens te geld. Daar word die nasionale demografiese syfers toegepas. In plaas van 79% swart is daar reeds 92% op die diensstaat en in plaas van 9.6% wit is daar slegs 1.92% op die diensstaat. Ook die bruin mense trek aan die kortste end. In plaas van 8.9% bruin is daar slegs 5.27% op die diensstaat.
Dit is baie duidelik dat minderhede soos wit-, bruin- en Indiër-mense blatant deur beide die ANC en die DA misken word selfs met die implementering van hulle eie riglyne en kwotas.
