Ons het reeds na die dood van mnr. Mauritz Oberholzer die sektor polisiëringshoofde van die SAPD gevra vir ‘n beheerliggaam-vergadering met SAPD Brits se sektorpolisiëring waarin ons dan ook die vlaag van misdaad in Losperfontein, Wolwekraal, Elandsrand, Beestekraal, Kameeldrift, Kameelfontein en omgewing onder die loep sal neem.
Met onskuldige burgers as teikens eskaleer ‘n roof gewoonlik en die gevolg is dan moord, verkragting, mutilasie en marteling. Baie van die misdade word gepleeg deur georganiseerde bendes wat tot die tande toe gewapen is. Baie van die misdade word nooit opgelos nie. Daar is deur onafhanklike navorsing bewys dat 313 plaasboere per 100 000 van die bevolking per jaar vermoor word, terwyl die syfer 31 per 100 00 per jaar vir die hele Suid Afrika is. Dit maak die moordsyfer op plaasboere die hoogste in die wêreld.
Die regering het kommando’s, wat deur boere beman is, in 2007 afgeskaf. Hierdie kommando’s was vir die selfbeveiliging van ons gemeenskappe. Die afskaffing het tot die gevolg gehad dat die moorde op plaasboere toegeneem het. Dit is asof daar tans ‘n geïntimideerde onteiening van grond plaasvind deur ‘n bewind van vrees en geweld, wat strook met die regering se gedurige uitsprake oor die nasionalisering van privaat landbougrond, myne en industrieë in Suid Afrika. Die informele nedersettings wat nou ook gevestig word op publieke werke se landbougrond in Kameeldrift het daar ook die misdaad drasties laat toeneem.
Die regering moet ons antwoord op die vraag of landelike beveiliging regtig as prioriteit gesien word, aangesien daar na vele vergaderings en beloftes nog niks konkreets op die tafel gelê is nie. Akkurate statistieke van misdaad moet ook maandeliks beskikbaar gestel word aan die beheerliggaam sodat daar meer gekonsentreer kan word op die areas en sektore wat die meeste geraak word. Die gemeenskap van Brits dring dan ook daarop dat die SAPD se sektorpolisiëring (landelik) heeltemal geskei word van stasie-polisiëring en dan befonds, bewapen en beman word daarvolgens. Skakeling en samewerking met ons GPF’s, buurtwagte en sekerheidsmaatskappye moet ook op ‘n meer formele basis geskied.
