Polisie vorder nie in Corrie ‘Sniper’ Sanders se moordondersoek nie

Die polisie in Noordwes maak nie hond haaraf in hul soektog na die moordenaars van Suid-Afrika se voormalige swaargewig-bokskampioen Corrie Sanders nie.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie is besig om die voorval te ondersoek,” het brig. Thulani Ngubane Dinsdag gesê.

Die 46-jarige Sanders was Saterdagaand by die Thatch Haven Country Lodge-restaurant buite Brits om sy broerskind se mondigwording te vier toe gewapende mans by die restaurant opgedaag en wild begin skiet het.

Sanders, wat in sy hand en maag geskiet is, is Sondag in die Kalafong-hospitaal oorlede nadat hy klaarblyklik nie dadelik behandel is nie en by twee ander hospitale behandeling geweier is. Sanders was die enigste slagoffer van die aanval op die eetplek.

Die gewapende mans het blykbaar verskeie persoonlike items van die restaurantgangers geneem. Dit is nog nie seker of die aanval vooraf beplan is nie. Die aanvallers het deur ‘n afleweringsingang toegang tot die restautant verkry.

Sanders, wat as die “Sniper” bekendgestaan het omdat hy blitssnel en akkuraat met sy vuiste was, was een van Suid-Afrika se mees suksesvolle boksers in die wêreld.

Die hotklou, wat deur Harold Volbrecht afgerig is, het net vier van sy 46 gevegte in die bokskryt verloor.

депутат лобановский

Maak 'n opvolg-bydrae