‘n Nuwe meningspeiling toon aan dat die meeste Suid-Afrikaners in stedelike gebiede adjunkpres. Kgalema Motlanthe as hulle president bo pres. Jacob Zuma verkies, het die Sunday Times berig.
Die meningspeiling toon 39% van stedelinge verkies Motlanthe as president, teenoor slegs 32% wat wil hê Zuma moet die toppos beklee, het die koerant berig.
Die peiling, wat deur die navorsingsmaatskappy TNS onderneem is, het getoon dat Motlanthe ‘n positiewe respons van 51% het onder swart stedelinge, teenoor slegs 41% vir Zuma.
Die meerderheid wit en bruin mense verkies Motlanthe, terwyl Indiërs Zuma meestal verkies.
Zuma se gewildheid het veral afgeneem in Soweto, Johannesburg, waar slegs 48% hom as president ondersteun – die laagste ooit sedert hy in 2009 aan bewind gekom het.
