Ek is al lankal moeg vir Beeld se rubriekskrywers wat nie verstaan hoe mense voel nie en hoe die gewone man sukkel. Iemand soos Wilhelm Jordaan of Neels Jackson werk nie vir ‘n swart baas en ‘n swart bankbestuurder nie!
Myne is ‘n swart vrou en ek kan julle sê dis nie maklik nie.
Maar die ergste is dat Beeld weer vandag op die voorblad gratis advertensie maak vir ‘n Amerikaanse produk. Ek wil nie eers herhaal wat dit is nie, dit maak my so briesend!
My vrou het ‘n klein sake-onderneming begin wat heel goed vorder, maar om verder uit te brei moet sy adverteer. Dis ‘n duur storie want aan die begin sit ‘n mens al die profyt in bemarking.
Dan kom Beeld en gee vir een van die rykste, grootste multinasionale maatskappye gratis, volkleur voorbladadvertensie! Ons kleinsakemanne en -vroue moet honderdeduisende betaal vir dieselfde voorreg.
Natuurlik doen hulle dit asof dit nuus is, maar as ‘n mens die berig lees, is dit eintlik nonsens en die grootste deel van die berig gaan oor die “nuwe, verbeterde, beste, almal-wil-dit-hê” twak. Mense mors duisende rande op daardie produkte want daar is baie goedkoper modelle wat meer kan doen en beter gemaak is as dit wat Beeld skelm aan hulle lesers afsmeer.
