Kom ons verklaar ons eie noodtoestand

Gister het ons by PRAAG ‘n berig gedoen oor die gruwelike mesmoord op mnr. Jan dut Toit (67) van die voorstad Dennesig in Middelburg. Oor die afgelope twee weke woed as’t ware ‘n burgeroorlog in Muldersdrift, net ‘n klipgooi van waar ek woon. Sowel Alyssa Botha (13) as André Jordaan (50) is afgemaai.

Vanoggend stuur ‘n PRAAG-medewerker vir my ‘n brief aan wat vanoggend in die Kaapse dagblad Die Burger verskyn het. Daarin skryf Anoniem van die Wes-Kaap:

Daar is nie meer ’n keuse tussen veg, vlug

Ek leef regtig in vrees vir ’n revolusie/burgeroorlog en is oortuig dit is ’n wesenlike vrees vir Suid-Afrikaners in die lig van wat tans in ons land aan die gang is.

Ek sou graag wou weet hoeveel Suid-Afrikaners my oortuiging deel, want dit gee my slapelose nagte.

Ek voel wanhopig en is by die punt waar ek nie eens meer dink dit is nodig om langtermyn-toekomsplanne te maak nie, aangesien dit sinloos (moontlik nog waansinnig) is om te hoop vir die beste, terwyl alles daarop dui dat ons op die randjie van anargie staan.

Ek is baie lief vir my land en kultuur, maar as ek finansieel daartoe in staat was, het ek nou opgepak en gevlug (ja, gevlug). Ek vrees vir my kinders se toekoms, selfs hul lewe. Ek is bang, regtig bang. Is ek alleen in hierdie vrees?

Hierdie anonieme briefskrywer verwoord myns insiens iets wat ons almal op een of ander manier voel. Persoonlik woon ek in ‘n redelike veiligheidsbuurt met toegangsbeheer, kameras vir Afrika, patrollerende wagte met wapens en dies meer. Maar ons is omring van onstabiele swart woonbuurte en plakkerskampe waar daar daagliks buitelanders straffeloos doodgemaak word en natuurlik die gebeure in Muldersdrift wat al hoe meer sinister begin lyk.

Aan die begin van die jaar het ‘n vriend en buurman sak en pak met sy gesin Australië toe geëmigreer omdat hy insgelyks voel dat ons ‘n donker toekoms tegemoet gaan.

Hoe spreek ons hierdie krisis aan?

Ek meen dat die antwoord eenvoudig is: ons moet ons eie noodtoestand verklaar. Hoeveel “onse” in my pond? Ongeveer vier miljoen: Afrikaners en Engelssprekende blankes wat bereid is om met ons saam te werk. Net soos ons tans sáám teen Woolworths se anti-blanke indiensnemingsbeleid mobiliseer, kan ons mekaar die hand reik en sorg dat ten minste daardie dele van die land waar ons in groot getalle woon veilig gestel word. Daarmee saam natuurlik plase en landbougebied waar ons voedsel verbou word.

Skep ‘n veilige toekoms en sluit aan by PRAAG!

Daar is sekerlik vele organisasies, ook privaat veiligheidsmaatskappye, wat ‘n rol hierby kan speel. Vele kundiges is beskikbaar. Maar iemand moet die leiding neem om die noodtoestand te verklaar en te sorg dat mobilisering teen geweld en anargie in fases geskied. Ek sien dit só:

Fase 1: Oprigting van ‘n kommunikasiestelsel (1 tot 2 maande)

Afgesien van die internet en sosiale media, waardeur ons kan kommunikeer om mense landwyd te organiseer, moet ons ook ‘n radiokommunikasiestelsel landwyd tussen dorpe en voorstede oprig. Dit kan met die hulp van radio-amateurs geskied. In ‘n uiterste geval waar Eskom in duie stort, die krag en selfs die selfoontorings afgaan, gaan misdadigers en plunderaars op ons kan toesak sonder dat ons ‘n benul het van wat aangaan. Vandaar die behoefte aan so ‘n radiostelsel.

Fase 2: Insameling van inligting en statistiek oor geweldsmisdaad (1 tot 2 maande)

Met behulp van ons kommunikasiestelsel sal ons in staat wees om ons eie misdaadstatistiek by te hou, wat met die staat s’n vergelyk sal kan word. Teen daardie tyd sal ons verskeie “opskamers” landwyd hê waar ons probleemgebiede kan aanstip en personeel en strukture kan ontplooi.

Fase 3: Mobilisering van vrywiligers en goedgesinde privaat veiligheidspersoneel (4 tot 6 maande)

Tydens hierdie fase kan die ergste slagplase soos Muldersdrift gestabiliseer word en kan buurtwagte en plaaswagte landwyd saamwerk om kriminele vas te vat en uit ons gebiede te verdryf.

Fase 4: Instelling van ‘n nuwe ‘nasionale diensplig’ onder die blanke jeug (1 tot 2 jaar)

Daar bestaan tans verskeie studierigtings aan universiteite wat ‘n verpligte tydperk van “gemeenskapsdiens” behels. Ons moet eenvoudig van alle jongmense wat matriek klaarmaak, verwag om vir ‘n jaar in ons buurt- en plaaswagte te dien. Hulle sal aanvanklik opgelei en gemotiveer word en kan daarna landwyd diens doen op plekke waar hulle benodig word. Hulle kan óf by hul ouers bly óf by vreemdelinge of in koshuise tuisgaan wat ons vir die doel kan inrig. Ons kan selfs buitelandse jeugdiges werf wat dalk sal hou van ‘n jaar se avontuur in Afrika. Immers is daar vele wat elders in Afrikalande as vrywilligers gaan werk: die Amerikaanse Peace Corps-vrywilligers, asook die Franse coopérants.

‘n Boer maak ‘n plan, sê hulle. Ons voorouers het so oorleef tydens tydperke aan die Oosgrens of later in Natal, die Vrystaat en Transvaal toe daar veel groter anargie as tans geheers het. Ons het kommando’s gevorm en te perd gaan patrolleer. Nou het ons al die tegnologie van die een-en-twintigste eeu tot ons beskikking wat dit soveel makliker maak.

Eintlik lees ons elke dag van moorde en verkragtings in die media omdat ons te sleg is om dit deur eenvoudige, doelgerigte optrede te stuit.

Hoewel PRAAG ‘n kultuurorganisasie is wat hom op nuwe media en die bevordering van Afrikaans toespits, was ons ‘n paar jaar gelede nou betrokke by gemeenskapsveiligheidsaksies in die Noord-Transvaal en elders. Op ‘n stadium het ons baie geslaagd opleidingskampe vir boere en stedelinge aangebied. Weens ‘n gebrek aan fondse moes dit egter gestaak word. Ons hele struktuur, instrukteurs en kursusmateriaal is egter steeds beskikbaar en kan weer geaktiveer word, mits ons oor die nodige fondse beskik.

Hoewel ek ook tans betrokke is by die sogenaamde Afrikaner- strategiese komitee waarop etlike Afrikaanse organisasies en invloedryke individue dien, is hierdie saak so dringend dat ons nie op komplekse kollektiewe besluitneming kan wag nie. Dis letterlik lewensnoodsaaklik dat ons sommer vinnig teen geweld en gevaar begin mobiliseer.

Elke dag wat verbygaan sonder dat ons iets daadwerkliks dóén, sterf nóg van ons mense. Die slagting moet nou ophou.

Sonder fondse kan ons dit natuurlik nie aanpak nie. My voorstel sou wees dat mense in groot getalle by PRAAG aansluit sodat ons ten minste die eerste fases van die projek binne die volgende paar weke kan aanpak. As ek sien hoe flink mense op die Woolworths-kwessie gereageer het, maak dit my optimisties dat ons sommer vinnig bepaalde teikens vir befondsing kan bereik.

Die ou kommandostelsel wat deur die ANC-regering afgeskaf is, het blykbaar ‘n begroting van slegs R50 miljoen per jaar gehad. Blykbaar sou dit selfs teen R25 miljoen per jaar bedryf kon word, rofweg R2 miljoen per maand. Ek stel my voor net een van die groot vier banke verhaal binne ‘n paar uur soveel aan dienstegelde van ons. Ons betaal met ‘n glimlag miljarde rande aan “Werner” en sy trawante om hul direkteure en aandeelhouers ryk te maak, maar as dit by die beskerming van ons vroue, kinders en bejaardes kom, wik en weeg ons oor R50. Hoe rym dit?

Dis tyd om die hand aan die ploeg te slaan, maar ook ‘n paar rand by te dra om ons volk van gewisse ondergang te red.

Deur die geskiedenis het gewone mense opgestaan om te sê: Genoeg is genoeg! Ons moet dit ook nou doen.

Die eenvoudigste is vir mense om deur middel van debietorders R50 tot R100 per maand by te dra en sodoende elkeen van die fases te verwesenlik. Ons behoort dit só te laat gebeur:

Fase 1: 2000 nuwe PRAAG-lede (wat ongeveer R100 000 per maand vir die projek beskikbaar sal stel).

Fase 2: Nog 2000 nuwe PRAAG-lede.

Fase 3: Nog 5000 nuwe PRAAG-lede.

Fase 4: Kan in samewerking met ander organisasies en instellings geskied, of ‘n nuwe ledeteiken kan bepaal word om die totale nasionale dienspligstelsel te bedryf.

Ons is heeltemal in staat om die moordsyfer in ons buurte en op ons plase te laat daal tot op die vlak van die Duitse of Switserse syfer wat ongeveer 1 moord per 100 000 lede van die bevolking per jaar is. Duitsland en Switserland is die veiligste lande ter wêreld, maar elke Switserse man dien ook in hul volksweermag en moet elke jaar kampe doen. Dus kom veiligheid selfs in Switserland teen ‘n prys.

Tans is die moordsyfer onder ons boere natuurlik 300 per 100 000 lede van die bevolking en onder blanke stedelinge waarskynlik iewers tussen 50 en 100. Binne twee jaar kan ons dit tot beskaafde vlakke verminder en honderdvoudig laat verminder, mits ons bereid is om saam te werk en elkeen ‘n geldjie of vrywillige werk by te dra.

Daardie boere en stedelinge wat hulself reeds in goeie plaas- en buurtwagte georganiseer het, het bewys dit kan gedoen word, want die aanvallers is nie daar bedrywig nie. Sekere gebiede is reeds uiters veilig en rustig, terwyl moord en doodslag in ander dele botvier.

Wie het gesê? Gee my ses maande.

Alles sal regkom, mits elkeen sy plig doen, soos die geliefde Vrystaatse president, Jan Brand, gesê het.

Vul ons debietordervorm in en ek sal u van ons vordering op hoogte hou. Ons kan en mag dit nie langer vat nie!

Lewer gerus kommentaar op hierdie rubriek. Dit word ook op Facebook geplaas.

U raad, aanmoediging en opbouende kritiek sal waardeer word.

Skep ‘n veilige toekoms en sluit aan by PRAAG!

данильченко юрій Харків

Maak 'n opvolg-bydrae