Skaliegas, ‘n groen-getinte leuen

Sasol se Secunda-aanleg is die grootste enkele vrysteller van CO2 op die planeet, en Eskom is die 3de grootste vrysteller van CO2 in die wêreld!

Dus is die nuus dat Shell die Karoo gaan omdolwe vir skaliegas beslis nie iets wat ‘n groen hart kan blymaak nie, veral gegewe die feit dat Sasol en Shell wil saamwerk op die projek.

Dit is bekend as hidrouliese breking, of hidrobreking, en sekere rolspelers wil dit as die toekoms van skoon, veilige energie, dié van “natuurlike” gas, voorhou. Maar in Pennsylvania, West Virginia en Arkansas, word inwoners met aardbewings, vergiftigte waterbronne en besmette drinkwater geteister.

Trouens die deelstaat New York het ‘n moratorium gehef op hidrobreking nadat die werklike probleme rugbaar geraak het van karsinogeniese stowwe in hoë konsentrasies in die water en omgewing. Maar verder as dié onmiddellike probleme wag ‘n groter probleem met fossiel-brandstof aangesien dit nie volhoubare energie verskaf nie, maar slegs ‘n opkikker vir die terminale afgang van die oliemaatskappye beteken.

Benewens die afgryslike omgewingskade wat dit inhou, is dit in werklikheid stokou tegnologie wat al dikwels aangewend is om gas en olie uit diep reservoirs te ontsluit. Dit is dus nie net ‘n spekulatiewe gegewe dat dit skade aan die natuur aanrig nie. Dis bekend en dis ‘n feit! Dit behels die pomp van boorvloeistowwe teen hoë druk in die put, hoog genoeg om die rotse te breek met die gas of olie, en dan vloei dit meer geredelik.

Wat verander het in die afgelope paar jaar is vooruitgang in boormetodes, maar die beginsel bly dieselfde. Putte kan nou horisontaal geboor word, en die brekingsproses het al hoe meer doeltreffend geword. Die gevolg is dat ‘n voorheen verwaarloosde bron van fossielbrandstowwe, skaliegas, maklik en goedkoper onsluit kan word. Dit het gelei tot ‘n oplewing in skaliegaswinning, wat vir 40% van die Amerikaanse natuurlike gasproduksie in 2008 ingestaan het. Maar die uitrol van duisende van nuwe putte het ‘n las van nuwe probleme geskep.

Hidrobreking produseer ‘n massiewe volume water-gebaseerde boorgruis wat iewers moet heen. Die Amerikaanse regering het die oliebaronne gered deur hulle vry te stel van die Safe Water Drinking Act, vervat in die 2005 Energy Policy Act. En nou is daar gevalle van waterbronne wat onherstelbaar besmet is in Pennsylvania, en van ekosisteme wat totaal uitgewis is in West Virginia. En… die oliemanne is nie aanspreeklik nie!

Hidrobreking kan selfs veroorsaak dat die aarde beweeg, met aardbewings gerapporteer in sentrale Arkansas, wat boorbedrywighede daar tot stilstand gedwing het. Dat die omgewingsprobleme daar is, is gewis. Dat dit tans buite die wetlike raamwerk en die EPA (Environmental Protection Agency) se oorsig val, is te wyte aan slinkse Amerikaanse politiekery. Maar die getuienis van die skade is daar.

Die voorstanders van die skaliegasstormloop, sê hierdie is net tandekryprobleme. Beter monitering, verbeterde tegnologie en strenger regulasies sal al die kwellings oplos, volgens hulle. Dan kan ons almal dapper vorentoe beur na die pragtige groen, ‘n lae-koolstof-toekoms met ‘n skaliegas-reserwe wat maklik vir die VSA ‘n 100 jaar se energie kan beteken.

As ‘n mens in gedagte hou dat een Amerikaanse vliegdekskip soveel olie binne ‘n maand gebruik as wat sommige lande in ‘n jaar gebruik om polisieman in die wêreld se Oseane te speel, dan is dit duidelik waarom daar so ‘n gejaag na energie is.

Natuurlike gas het ‘n veel laer koolstof-emissie-intensiteit as vuil steenkool of olie. Dis die skoon neef van die fossiel-brandstof familie.

Die probleem met hierdie analise is dat dit tipies van die oliebedryf is, én nuttig, én kortsigtig. Die totale effek op die vrystelling van kweekhuisgasse is meer ingewikkeld as om net verbrandingsdoeltreffendheid te vergelyk. Die volle lewensiklus van alle emissies van die onttrekking, vervoer en die gebruik van ‘n brandstof lyk heel anders.

Dit wys in die uitgebreide studie wat ‘n Cornell Universiteit se professor onderneem het. En skokkend, oor ‘n 20-jaar tydskaal, het skaliegas ‘n hoër kweekhuisgas-voetspoor as steenkool en olie. Dit is as gevolg van die rol van metaan, ‘n kragtige kweekhuisgas, wat vrygestel word tydens hidrobreking. Dit word gerieflikheidshalwe deur die voorstanders van die proses uitgelaat.

Dit maak die voortgesette ontginning van hierdie hulpbron deel van die probleem, en nie die oplossing nie. In plaas van skoon energie, is skalie-gas ‘n groen-getinte leuen. En die enigste belowende toekoms wat dit inhou, is vir die groot gas- en boormaatskappye. Vir die mense en die natuur waarvan hulle afhanklik is, is dit ‘n ramp.

Фильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae