Amerikaanse amptenare glo die aanval is goed beplan, want Chris Stevens was net ‘n kort rukkie terug in die land en die besonderhede van sy besoek aan Benghazi, waar hy en sy personeel gesterf het, was bedoel om hoogs vertroulik te wees.
Die aanval is baie goed beplan en mbv mortiere uitgevoer.
Die Amerikaanse regering staar ‘n krisis in Libië in die gesig. Sensitiewe dokumente het verdwyn van die konsulaat in Benghazi en die sogenaamde “veilige huis” in die stad, waarheen die personeel kon terugval, het onder ‘n volgehoue mortieraanval gekom. Ander sodanige toevlugsoorde regoor die land word nie langer as “veilig” beskou nie.
Sommige van die ontbrekende dokumente van die konsulaat bevat onder meer ‘n lys van name van Libiërs wat saamwerk met die Amerikaners, en hulle verkeer tans in gevaar om deur ekstremistiese groepe uitgehaal te word. Van die ander dokumente hou verband met olie-kontrakte.
Volgens senior diplomatieke bronne is geloofwaardige inligting 48 uur voor die aanval op die konsulaat in Benghazi ingewin – asook die ambassade in Kaïro – dat Amerikaanse missies geteiken sal word, maar geen waarskuwings is aan diplomate uitgereik om op ‘n hoë gereedheidsgrondslag te wees nie, die sogenaamde “lockdown “, waaronder beweging beperk word.
Stevens was op ‘n besoek aan Duitsland, Oostenryk en Swede en het pas teruggekeer na Libië.
Agt Amerikaners, sommige van die weermag, is gewond in die aanval. Onder meer twee Amerikaanse seesoldate is beseer. Alle personeel van Benghazi het nou verskuif na die hoofstad, Tripoli.
In die tussentyd het ‘n seesoldaatspan, die Anti-Terrorisme Reaksiespan reeds in die land aangekom vanaf ‘n basis in Spanje en ander personeel is op pad. Bykomende eenhede is op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas.
‘n Skare van etlike honderde het die Amerikaanse ambassade gister in die Jemeense hoofstad Sanaa bestorm. Ander missies wat op spesiale gereedheidsgrondslag geplaas is, sluit in byna al dié in die Midde-Ooste, sowel as in Pakistan, Afghanistan, Armenië, Burundi en Zambië in.
