Op die wêreldwye ranglys van dollar-miljardêrs vir 2010, bekleë Indië die derde plek met 69, net agter China (128) en die VSA (403). Maar die rykste 100 Indiërs is volgens Forbes gesamentlik meer werd as $276 miljard, terwyl hul top 100 Chinese eweknieë net $170 miljard werd is. Die drie rykste Indiërs saam besit meer as die top 24 Chinese miljardêrs saam.
Jy hoef nie baie ver te soek vir bewyse van hulle rykdom nie, met meer as 30 luukse wolkekrabbers wat in Moembaai opgerig word. Vir die ryk inwoners, is hoogte die beste manier om te ontsnap van die werklikheid van Indië doeronder – die 55 persent van die stad se bevolking wat in haglike krotbuurte woon.
Die Verenigde Koninkryk skenk nogtans aan Indië sowat $460 miljoen jaarliks, wat Indië die grootste enkele ontvanger van die Britse hulpgeld maak. Baie gewone Britte vra hoe dit kan wees dat die vertrapte Britse belastingbetaler sulke bedrae bewillig aan ‘n land wat spog met sulke rykdom?
Van die mees verdoemende kommentaar oor Indië kom van die Franse skrywer Dominique Lapierre, wat minderbevoorregtes in Indië probeer bystaan. Hy is erg ontnugter deur die gierigheid en korrupsie wat hy oral teëkom.
Lapierre bedryf ‘n nie-winsgewende organisasie, wat ‘n netwerk van klinieke, skole, rehabilitasiesentrums en hospitale onderhou. Maar 90 persent van gratis medisyne wat hulle ontvang word gesteel op die reis van Delhi na Kolkata, en sy projekbestuur word dus gedwing om teen hoë pryse medisyne van die mark aan te skaf.
Sy trust wat ‘n belasting-aftrekbare sertifikaat vir alle skenkings bied, is ook ‘n teleurstelling, sê hy want gegoede Indiërs stel nie daarin belang om hul medemens te help nie.
Heeltemal die teenoorgestelde, trouens. Baie van Indië se rykdom is in Switserse banke weggesteek, na raming sowat $1,6 triljoen. Data van die Switserse Bankassosiasie in 2006 het aangedui dat Indië meer “swart” geld gehad het as die res van die wêreld saam, oftewel 13 keer Indië se totale nasionale skuld.
Individue en maatskappye in die VSA, is verantwoordelik vir 75 persent van liefdadigheidshulp, terwyl in Indië slegs 10 persent van liefdadigheid gee. Die res van die hulpgeld word deur buitelandse organisasies gegee wat duidelik deur die verskriklike armoede geraak word.
In Indië het liefdadigheidskenkings trouens as ‘n persentasie van huishoudelike inkomste eintlik afgeneem. Uit ‘n ontleding van 30 HNWI’s in Indië het dit geblyk dat gemiddeld net ‘n kwart van een persent van hul netto waarde aan sosiale en liefdadigheid gee.
