Mosiuoa Lekota, minister van verdediging, het vanoggend ‘n beroep op Suid-Afrikaanse besigheidslui gedoen om die ekonomie van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) te help opbou.
Deur in die DRK te belê, kan Suid-Afrikaanse maatskappye werk skep en Kongolese bannelinge na die land teruglok. Infrastruktuur en paaie bied vele geleenthede aan die Suid-Afrikaanse sakesektor. Lekota het onderneem dat die Suid-Afrikaanse troepe in die DRK sal bly tot vrede en stabiliteit bereik is. Daar is dus nie sprake van ‘n onttrekking nie.
Hy het egter ontken dat Suid-Afrika beplan om militêr in Somalië betrokke te raak. Volgens hom sal dit te veel druk op die Suid-Afrikaanse weermag plaas. Suid-Afrika sal wel bereid wees om Somaliese weermagpersoneel op te lei.
