Prof. Alexander, een van prof. Jonathan Jansen se gunstelingmeningsvormers oor Afrikaans, het een van die wit deelnemers by die Afrikaanse Taalberaad op Stellenbosch in 2005 toegesnou: “Die Afrikaner is ‘n lyk. Dis net jy wat nog daaraan glo omdat jy oningelig is.”
Alexander het dié uitlating gemaak ter ondersteuning van prof. Jansen. Tydens Jansen se inleiding by die einste Afrikaanse Taalberaad het hy vermeld dat hy nie wil luister na die “kak oor kultuurverskille” nie. As rektor het Jansen terloops intussen akademiese meriete openlik by Kovsies ondergeskik aan rassetransformasie gestel wat selfs Afriforum genoop het om kritiek teen hom uit te spreek.
Hy het by die Taalberaad aanbeveel dat mense wat van hom verskil, “seksuele omgang met ‘n swart persoon behoort te hê sodat hulle kan regkom”, duidelik ‘n gewilde tema by Alexander toe.
Onder aanmoediging van ‘n “transformerende” Stellenbosch, verkeer bruin intellektuele skynbaar steeds onder die indruk dat drie miljoen Afrikaners in 1994 agv plaasmoorde of etniese suiwering verdwyn het. Media24 het intussen amptelik die benaming “Afrikaner” met “Afrikaanse” vervang. Soos in die ou Sowjetunie of Oos-Duitsland mag ons nie na onsself in ou, vertroude terme beskryf nie, maar moet “amptelike” begrippe en identiteite eerbiedig word.
Die enigste afleiding wat ‘n mens hieruit kan maak, is dat KykNET nie van sy huidige kykerspubliek – blanke Afrikaners – hou nie. Daar is min sakeondernemings ter wêreld wat soveel minagting teenoor hul eie kliënte koester soos KykNET.
Dat Alexander, tesame met Jansen, Gerwel en ander aardig besoldigde “sterre” in die transformasie-pleïade tot sulke minagting vir Afrikaners bygedra het, is gewis.
Vroeër vanjaar het hy egter die mees onbesonne projek van sy twyfelagtige loopbaan aangepak deur hom op RSG tydens ‘n byeenkoms in Seepunt tot “die herstandaardisering van Afrikaans” te verbind. Volgens Alexander is Standaardafrikaans ‘n “wit taal” of dan ‘n minderwaardige dialek wat deur ewe minderwaardige Afrikaners gepraat word.
Die gedagte dat die meer as 300 woordeboeke in Afrikaans voortaan in “Kaaps” of watter ander variant van Afrikaans Alexander ook al vir sy herstandaardisering sou verkies, is ‘n Quijotiese gedagte. Nie net is dit absurd nie, maar word slegs deur ressentiment jeens blankes ondersteun.
Dít is ongelukkig die nalentskap van Neville Alexander.
