Die beoogde samesmelting van die Hoër Tegniese Skool, Vereeniging en Hoërskool Vereeniging om die nuwe Vereeniging Gimnasium in 2013 te vorm, kan as voorbeeld dien van wat vermag kan word indien alle rolspelers pro-aktief optree, sê mnr Jaco Mulder, VF Plus LPW vir Gauteng.
Dit bly egter jammer dat tradisie as deel van kultuurerfenis, in die slag bly maar ons leef vandag in ‘n omgewing waar swak beplanning deur die departemente vir Onderwys en ook Infrastruktuur en Ontwikkeling, ‘n Afrikaanse skool met dalende getalle, met onderrig in Engels sal konfronteer en die taalstatus van die skool uiteindelik in die slag bly, het Mulder gesê.
Mulder het ‘n beroep op skole in Gauteng gedoen wat in soortgelyke omstandighede verkeer, om voortydig met konstruktiewe onderhandeling pro-aktiewe stappe te oorweeg om uiteindelik Afrikaans as onderrigtaal in elke gemeenskap te verseker.
Die VF Plus veg vir jare reeds onbeskaamd vir Afrikaans in die Gauteng Wetgewer en sal skole in dié verband bystaan.
