Kernkragsentrales gaan SA vir geslagte bankrot maak

Asof die korrupte wapentransaksie nie genoeg was nie, is die ANC-bewind besig om reg te maak om R3,2 triljoen op kernkragsentrales en ander “infrastruktuurprojekte” te bestee. Volgens ‘n berig wat op 21 Augustus in Business Day verskyn het, het die minister van openbare ondernemings, Malusi Gigaba, ‘n nuwe finansieringsafdeling in sy departement gestig om “vernuwende befondsingsmodelle” vir staatsbeheerde maatskappye soos Eskom en Transnet te vind.

As ‘n mens daaraan dink dat die staatsbegroting in die geheel tans ongeveer R1 trijoen (1 met 12 nulle agter aan) beloop, dan verstaan ‘n mens dat die bedrag van R3 triljoen die land in ‘n Griekse tipe skuld-BNP-verhouding gaan plaas. Trouens, volgens Statistiek Suid-Afrika se jongste syfer, staan Suid-Afrika se bruto nasionale produk tans op R1 924 873 000 000 oftewel R1,9 triljoen. Ons huidige skuldvlak volgens die IMF is 38,77% van BNP, oftewel R746 273 miljard.

Indien die ANC-regering met sy reusebestedingsplanne voortgaan, sal Suid-Afrika se bruto staatskuld tot ‘n astronomiese R3,946 triljoen styg! Ons skuld-BNP-verhouding sal dan styg tot ongeveer 208%.

Met so ‘n skuldverhouding sal geen belegger, hetsy plaaslik, hetsy in die buiteland ‘n sent aan ons regering leen nie. Ons sou in ‘n veel slegter situasie as Griekeland verkeer, wat tans “slegs 160% van hul BNP skuld. Die verskil is natuurlik dat Griekeland die Europese Unie en veral Duitsland agter hom het wat tans hulp verleen, terwyl Suid-Afrika slegs op homself aangewese is.

Indien Suid-Afrika se staatskuld tot 208% van BNP styg, sal ons só met ander lande vergelyk:

Suid-Afrika 208%

Griekeland 161%

Jamaika 139%

Italië 120%

Verenigde State 103%

Europese Unie (gemiddeld) 83%

Zimbabwe 70%

Bron: IMF

Die enigste ander land wat in ‘n soortgelyke posisie van meer as 200% staatskuld verkeer, is Japan op 230%. Ons moet egter in ag neem dat Japan reeds jare lank onder swak ekonomiese groei gepaardgaan, maar ook ‘n sterk uitvoerland is met aansienlike buitelandse reserwes. Suid-Afrika is ‘n netto-invoerland wat deesdae selfs 25% van ons voedsel invoer terwyl ons jare lank een van die min voedseluitvoerlande was. Japan beskik ook oor ‘n baie sterk geldeenheid, die jen, met rentekoerse naby aan nul, sodat sy staatskuld nie so ‘n groot rentelas op hom plaas nie. Soos wat Suid-Afrika se skuldvlakke styg, sal die rand noondwendig verswak en sal rentekoerse dienooreenkomstig styg. Die land sal in ‘n skuldkrisis vasgevang wees wat een of twee geslagte mag neem om te delg.

Blykbaar beplan die ANC om agt kernkragsentrales te bou. Weens regstellende aksie, rassekwotas op universiteit en ander faktore, het Suid-Afrika se kundigheid op die gebied van kernfisika en kernkrag drasties oor die afgelope agtien jaar agteruitgegaan. Ons beskik eenvoudig nie oor die kundigheid om agt kernkragsentrales te bou en te bedryf nie. Daarom sal buitelandse kundiges uit Europa en die Verre Ooste ingevoer moet word.

Die twee lande wat waarskynlik gaan meeding om die kontrakte vir die kernkragsentrales gaan Frankryk en China wees. Beide lande is bekend vir hul geneigdheid tot korrupsie. Daarom sal die graad van korrupsie rondom die beplande R3,2 triljoen ongekend in die wêreldgeskiedenis wees, met oorsese maatskappye wat meeding om ANC-politici en hul gesinne met reusebedrae vir die ondertekening van kontrakte om te koop.

Dit sal soos die wapentransaksie wees – tot die mag tien. Tans beraam verskeie waarnemers en instansies dat ongeveer ‘n derde van alle staatsbesteding weens korrupsie verlore gaan. Ons kan dus met veiligheid aanneem dat een triljoen rand – die ekwivalent van die huidige staatsbegroting – van die drie triljoen rand in die sakke van ANC-kaders, vriende en familie gaan beland. Die res sal na die buitelandse verskaffers gaan, wat op sigself ‘n reuseprobleem op die betalingsbalans gaan veroorsaak. Die kanse is goed dat die rand tot R20 of R30 per dollar mag verswak, wat ons huidige staatskuld wat in buitelandse valuta uitstaande is, sal laat verdubbel of verdriedubbel.

Daar is slegs twee miljoen belastingbetalers in Suid-Afrika wat beduidende bydraes tot die staatskas maak, waarvan ongeveer die helfte Afrikaners is. Dit gaan beteken dat ons vir twee geslagte of meer aan hierdie bestedingsorgie en skuldapokalips van die ANC sal moet betaal.

Kortom, ons en ons kinders en dalk ons kleinkinders gaan die belasting- en skuldslawe van die ANC-bewind en waarskynlik Franse kernkragmaatskappye word. Trouens, Frankryk sal dit moontlik regkry om sy huidige ekonomiese probleme op die rug van die Afrikanerbelastingbetaler te oorkom as hy ‘n reuse- ekonomiese inspuiting vanaf ons ontvang. Daar is reeds sprake daarvan dat die Medupe-kragsentrale wat deur die Franse maatskappy Alsthom gebou word, veelvoude van sy werklike prys kos, juis omdat die ANC  buitelandse bo plaaslike ingenieursvernuf verkies. En natuurlik is die kanse goed dat daar ook bedrae onder die tafel van hande verwissel het, wat die prys verder opgejaag het.

Die vraag is: Hoe ontkom ons aan die ANC se skuldpartytjie wat alle ander Afrika-skuldkrisissse wat daar al was, na ‘n vulletjie gaan laat lyk?

Myns insiens verhoog dit die druk op Afrikanerleiers om so gou moontlik selfbeskikking te verkry. Die enigste manier waarop ons aan hierdie berg skuld en korrupsie gaan ontkom, is deur geografies van die res van die land af te stig. Alternatiewelik moet ons dit aan die buitelandse maatskappye en die staat duidelik maak dat hierdie transaksie nie ons goedkeuring wegdra nie en dat ons daarom van die ekstra belasting en kostes daar rondom kwytgeskeld moet word. Omdat ons reeds geen verteenwoordiging in die regering en op die rade van staatsondernemings geniet nie, spreek dit vanself dat ons nie vir hul besluite en besteding verantwoordelik gehou kan word nie.

Ons sal hierdie transaksie van meet af aan met ‘n arendsoog moet dophou en ons teenkanting amptelik moet uitspreek by wyse van verklarings en stukke wat op die staat en buitelandse kontrakteurs beteken moet word. Dit gaan nie help om, soos in die geval van die wapentransaksie, eers ná die tyd beswaar te maak nie.

Олександр Фільчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae