Scenario’s waarin ‘n swart student drie onderskeidings in matriek behaal het, teenoor ‘n wit student wat agt behaal het, word in ‘n verpligte kursus by Kovsies gedoseer om te verduidelik waarom meriete nie as maatstaf vir toelating behoort te geld nie.
Die module is UFS101 wat by die Universiteit van die Vrystaat (UV) deur die rektor, prof. Jonathan Jansen, geinisieer.
In die module word aspekte rondom o.m. geloof, politiek en geskiedenis in die Suid-Afrikaanse konteks bespreek, met sekere gedeeltes van die kursus wat handel oor die bestaan van God en die skuld wat wit jongmense vir apartheid moet dra. UFS101 is ‘n verpligte jaarmodule wat alle eerstejaarstudente vir graaddoeleindes moet slaag.
Dit word slegs in Engels aangebied. In die module se uiteensetting word die gebruik van Afrikaans in dié kursus verbied ten einde “maatskaplike samehorigheid te bevorder”. Studente word verder ook verbied om hul werksopdragte in Afrikaans te beantwoord.
Prof. Dolf Britz, wat studente as gasspreker tydens die UFS101-module toegespreek het, het ‘n vergelyking getref tussen die Slag van Bloedrivier en Sharpeville en namens Afrikaners verskoning gevra vir sy geskiedenis omdat Afrikaners se hande met bloed bevlek is en hulle daarom swart mense om vergifnis moet smeek.
Eerw. Sukdaven het in reaksie namens ander Suid-Afrikaners die verskoning aanvaar. Scenario’s waarin ‘n swart student drie onderskeidings in matriek behaal het, teenoor ‘n wit student wat agt behaal het, word ook in die kursus aan studente voorgehou, waarna die studente moet verduidelik waarom meriete nie as maatstaf vir toelating behoort te geld nie.
“Die Afrikaner word as boosaardig voorgehou, terwyl ander groepe as vlekkelose helde uitgebeeld word. Studente neem verder aanstoot aan die wyse waarop Christenskap in twyfel getrek word en die manier waarop hulle gedwing word om eenvormige opinies te vorm,” aldus Anné Calitz, voorsitter van AFJK.
