‘n Woordvoerder, Lesolang Simon Mmope, het in ‘n verklaring gesê ‘n 52-jarige man het glo drie vroulike beamptes by ‘n padversperring op die R30 tussen Ventersdorp en Derby aangerand.
Die beamptes het gesien die boer se lisensie het in 2007 verval en hom gevra om uit sy motor te klim sodat hulle hom kon beboet.
Die boer het glo die beamptes geslaan en weggery. Hy is sowat ‘n kilometer verder vasgetrek nadat die beamptes hul kollegas ontbied het.
Die man is in hegtenis geneem en onder meer op aanklag van aanranding aangekla.
Luidens die verklaring is die drie verkeersbeamptes by ‘n hospitaal op Ventersdorp opgeneem.
Die boer sal Dinsdag na verwagting in die dorp se landdroshof verskyn.
