Een van die mans is Saterdagaand in Hartbeespoort in die Noordwes in hegtenis geneem, het brig. Neville Malila, woordvoerder vir die polisie gesê. Die 27-jarige het glo ná die voorval gevlug.
Die tweede man, 33, het hom Sondagoggend aan die Magaliesburg-polisie oorgegee. Sy prokureur was saam met hom het Thandi Modise, premier van Noordwes, in ‘n verklaring gesê.
“Ons dank aan ons polisie vir die spoedige inhegtenisname en ons rig onsself op die howe waar die reg sy gang kan gaan,” het Modise gesê.
Moehammad Fayaaz Kazi, 27, van Ventersdorp, en sy pa se vriend, Anser Magmoed, is Maandag by ‘n Chicken Licken-winkel in Magaliesburg aangeval.
Twee Afrikaanse mans het volgens Magmoed met Kazi se baard gespot en hom beledig.
Kazi, wat Afrikaans verstaan, het die twee gekonfronteer en ‘n bakleiery het begin. Beide Kazi en sy vriend is aangeval en die twee ander mans het van die toneel gevlug. Kazi het later in die Potchefstroom-hospitaal aan sy beserings beswyk.
