Die klub in Londen, Chinawhite, wat aan ‘n ryk Jordaniese sakeman Eyhab Jumean behoort, het Chad le Clos, die Suid-Afrikaanse swemmer wat ‘n goue medalje losgeswem het, getrakteer.
Die peperduur nagklub was ‘n paar jaar gelede finansieel in die knyp, omdat hulle bekendes graag onthaal wat nie daarvan hou om te betaal nie. Die Britse monarg se kleinseun, prins Harry, kuier graag by die klub. Dit is neffens Oxfordstraat, in die hartjie van Londen, geleë.
Le Clos is gesien in die geselskap van drie vroulike swemmers van die Australiese swemspan. Hy is deurgelaat deur die personeel by die deur sonder dat hy gewag het.
Die klub, met binneversiering op ‘n Chinese tema, is een van die duurstes in Londen, en lidmaatskap kos ongeveer R10 000 jaarliks. Die drankies is ook uitspattig duur.
Om mense te lok, laat die deurwagte gewoonlik ‘n lang tou mense buite wag, terwyl die klub binne leeg is, sodat dit moet lyk asof die plek bedrywig is. Swart besoekers kla gereeld dat hulle weggewys word. Dis net swart sokkerspelers of swart krieketsterre wat maklik toegang verkry, sê hulle.
Le Clos het Moët-sjampanje wat uit goue bottels bedien is, geniet.
Die Olimpiese legende Michael Phelps wat teen Le Clos verloor het, was nie deel van die geselligheid nie.
Phelps het dié week wenkbroue laat lig toe hy aan ‘n Amerikaanse sakekoerant vertel het swemmers sommer die swembad as ‘n toilet gebruik. “Ek dink almal piepie in die swembad,” het hy Maandag in ‘n video-onderhoud met die Wall Street Journal gesê.
“Dit is soort van ‘n normale ding vir swemmers. Jy weet, wanneer ons in die water is vir twee ure klim ons nie regtig uit om te, jy weet, te gaan piepie nie. Die chloor maak alles dood, so dis nie sleg nie.”
Phelps is die mees suksesvolle Olimpiese atleet van alle tye met 22 medaljes, insluitend 18 goues.
Hy het sy uittrede by die London Spele op 26-jarige ouderdom aangekondig.
