Is Malema se besoek aan Londen vreemd? Dink weer. Dit was ‘n Britse diplomaat wat ‘n pretparkrit saam met Kim Jong-un geniet het.Britse charge d’affaires Barnaby Jones het glo heerlik gekuier by die diktator en hy is die Westerling in die foto saam met die Noord-Koreaanse leier.
Die Britse minister van buitelandse sake het Donderdag kleigetrap om te verduidelik waarom ‘n relatief junior diplomaat ‘n pretparkrit met Noord-Korea se leier, Kim Jong-un neem.
Foto’s van Kim se huwelik het verlede week verskyn, waarna die vrae oor die Westerling in een van die foto’s ook geopper is. Nou weet ons, maar die Britse regering self weier om enige persoonlike besonderhede oor sy verteenwoordiger bekend te maak.
In die rondomtalie van die politieke wêreld, is foto’s van die gelukkige geleentheid vrygestel deur die Noord-Koreaanse staatsmedia op dieselfde dag as wat Londen se Olimpiese organiseerders moes verduidelik hoe hulle toegelaat het dat die Suid-Koreaanse vlag in Hampden Park voor Noord-Korea se sokkerwedstryd teen Colombia gebruik is.
Noord-Korea het die Britse verskonings aanvaar, want sedert Desember verlede jaar vertel die buitelandse sekretaris William Hague graag dat Kim-Jong-Il se opvolger, sy seun, ‘n keerpunt vir Noord-Korea beteken.
Die identiteit van die diplomaat is vir die eerste keer geopenbaar deur die Amerikaanse tydskrif Mother Jones. Charles Armstrong, hoof van Koreaanse studies aan die Columbia Universiteit, sê die publikasie van foto’s van Noord-Koreaanse leiers met buitelanders is baie skaars.
“Dit is baie vreemd, om ‘n vreemdeling so in die nabyheid van Kim Jong-un te wys,” het Armstrong gesê. Hy is self ‘n gereelde besoeker aan die land.
