Terwyl RW Johnson meen dat linkse Afrikaniste Robert Mugabe se grondhervormingsprogram sedert 2008 ophemel, is die ideologiese basis eintlik baie lank gelede gelê deur die organisasie by name PLAAS, wat steeds deur Brittanje en Amerikaanse organisasies ondersteun word.
Dit is vreemd dat Johnson nie bewus is hiervan nie, en slegs Moslems soos Samir Amin en Magmoed Mamdani uitsonder as die “linkse” sondebokke. Nietemin maak die skrywer interessante opmerkings oor die jongste Zimbabwiese holocaust. Ongelukkig maak hy egter geen melding van die een wat al dekades lank in die Angelsaksiese media verswyg word nie en wat aanleiding tot die jongste een gegee het nie.
Johnson probeer Mugabe se “Murambatsvina”-veldtog as die enigste mensetragedie skets, maar rep geen woord oor die Gukurahundi nie.
Die voorstanders van Mugabe se soort grondgryp is beslis bedrywig, soos Johnson opmerk, want hierdie Dinsdag gesels professor Bernadette Atuahene oor haar boek getiteld ‘We Want What’s Ours-An Evaluation of South Africa’s Land Restitution Program’, in die Seminaarkamer, Chalsty-konferensiesentrum, op die Weskampus van die Universiteit van die Witwatersrand. Gaan luister gerus na haar om Johnson se bekommernis te begryp.
Duidelik het die gesamentlike ideologiese offensief teen Afrikaners nou ‘n nuwe wending ingeneem aangesien die internasionale media se behandeling van wit boere as die tragiese slagoffers van die krisis in Zimbabwe seker uitgewoed sal raak as Suid-Afrika aan bod kom.
Daar was onlangs ‘n hele aantal artikels wat die voordele van “grondhervorming” ten behoewe van swartes uiteensit soos die opvallende voorbeeld van Lydia Polgreen se “In Zimbabwe Land Takeover a Golden Lining” (New York Times, 20 July 2012). Johnson was dus kennelik genoodsaak om in te spring met ‘n “nuwe” problematiek – die hiperboliese hedendaagse holocaust – noudat die Britte se agenda in Suidelike Afrika volvoer word en hulle dalk verantwoordelikheid moet neem daarvoor.
Me. Polgreen poog om te fokus hoofsaaklik op die 60 000 nuwe swart tabakboere, wat voortploeter op klein stukkies grond om £330,000,000 se tabak te lewer, ver van die 2000-oes van £522,000,000. Sy hemel ook Ian Scoones van die Universiteit van Sussex op oor die “mite dat grondhervorming ‘n ondeurdagte ramp” was. Landboukundiges is in elk geval nie verbaas oor enige opbrengs nie; Zimbabwe se klimaat is uiters geskik vir tabak.
Wat Zanu-PF-ondersteuning van swart boere betref, maak dit vir haar sin dat rykdom “meer billik verdeel word” want dit gee mense ‘n “gevoel van waardigheid en eienaarskap”. Dit is nie heeltemal duidelik hoe sulke positiewe gevoelens kan inspeel op ‘n honger maag nie.
Die World Food Program meen Zimbabwe verkeer op die vooraand van ‘n nuwe hongerseisoen waar 1,6 miljoen mense kos en bystand nodig sal hê – 60% meer as in die laaste hongerseisoen, as gevolg van nog ‘n rampspoedige graanoes van net 1.076.772 ton.
Wit kommersiële boere was in staat om voldoende oeste van hul lande af te haal, selfs tydens volskaalse droogtes, danksy hul gesofistikeerde besproeiingstegnologie.
Dis jammer dat RW Johnson nie sulke doodeenvoudige kwessies voorheen geopper het nie, destyds toe die Britse regering Robert Mugabe se groot ondersteuner was. Dalk was hy toe te doenig met anti-apartheid.
