Te midde van toenemende openbare woede oor Selebi se skielike vrylating op mediese parool die naweek, het The Times onthul dat die voormalige polisiehoof daagliks sonder moeite “sy bene kon rek” terwyl hy by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria was, nadat hy in Februarie opgeneem is.
Hy het behandeling ontvang vir diabetes en nierversaking.
In die aankondiging van Selebi se vrylating op mediese parool, het die minister van Korrektiewe Dienste, Sbu Ndebele, Vrydag die voormalige Interpol-hoof se siekte beskryf as “onomkeerbaar”.
Die Mediese Adviesraad Paroolraad het parool toegestaan nadat hy slegs 229 dae van die 15-jaar vonnis uitgedien het. Hy is in 2010 aan korrupsie skuldig bevind.
‘n Lid van die hospitaalpersoneel het gister gesê Selebi was nie ernstig siek nie.
Selebi se voorkeurbehandeling – nie net in terme van sy parool nie, maar ook met betrekking tot sy behandeling by die staatshospitaal waar 82 pasiënte op die waglys vir nierdialise in Maart was – het vrae laat ontstaan oor sy vermeende siektetoestand en parool.
Maar die kantoor van die ANC-hoofsweep Mathole Motshekga het Selebi se swak toestand benadruk.
Moloto Mothapo, Motshekga se woordvoerder, het gesê Selebi se vrylating was in lyn met die Grondwet en “om nie terminaal siek gevangenes vry te laat nie, sal nie alleen ‘n ernstige skending van die Grondwet wees nie, maar ‘n moreel afstootlike skending van menseregte”.
