“Die toestaan van mediese parool aan Jackie Selebi is skandalig en ondermyn die strafregstelsel in Suid-Afrika. Die boodskap is dat indien jy die regte politieke verbintenisse het jy misdaad kan pleeg en indien jy tronk toe gaan is dit net tydelik, want daar sal ‘n skuiwergat wees om vroeg op parool uitgelaat te word. Selebi is nou die derde geval, naas Schabir Shaik en Tony Yengeni, wat as ANC lede spesiale voorkeur geniet met parool. Dit is in teenstelling met Clive Derby-Lewis wat werklik siek is en aan kanker ly, maar nie mediese parool ontvang nie. Dit is nog ‘n skandvlek op Korrektiewe Dienste se naam en maak mediese parool ‘n klug,” sê mnr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor Korrektiewe Dienste.
