‘n Voorlopige ondersoek na die treinongeluk wat die lewens van 25 swart plaaswerkers geëis het, toon dat die wit werkgewer, ‘n boer, arbeidswetgewing oortree het, het die Departement van Arbeid gister gesê.
In ‘n verklaring, berig The New Age, sê die minister van Arbeid, Mildred Oliphant, “Die ‘feit’ dat die werkgewer nie rekords gehad het van die werkers nie, vererger die probleem en die afwesigheid van hierdie besonderhede is ‘n oortreding van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (WBDV).”
“Die Wet bepaal dat werkgewers besonderhede van hul werknemers, insluitende besonderhede van hul naasbestaandes moet hê.
“Ons is deur arbeidsinspekteurs in kennis gestel dat die boer ontken dat hy die werkers in diens geneem het. Volgens hom het ‘n kontrakteur die werkers na hom gebring,” het Oliphant gesê.
“Duidelik is dit ‘n onverdedigbare posisie en oortree dit die WBDV, wat sê die werkgewer moet al die besonderhede hê van mense wat op sy perseel werk.”
Die 25 werkers is dood en ander beseer nadat die vragmotor waarin hulle gery het verlede Vrydag by ‘n spooroorgang tussen Malelane en Hectorspruit in Mpumalanga teen ‘n goederetrein gebots het.
