‘ANC vandaliseer Afrikaans’

Koos van der Merwe, hoofsweep van die Inkatha-vryheidsparty (IVP), het die ANC daarvan beskuldig dat die regering Afrikaans vandaliseer.

“Die ANC hou aan met sy kulturele vandalisering van Afrikaans,” het Van der Merwe in ‘n verklaring gesê.

“Die nuutste blatante voorbeeld is dat die regering ses vol blaaie se advertensies vir vakante poste in Rapport van Sondag, 15 Julie 2012 geplaas het; alles net in Engels.”

Van der Merwe sê hy wil weet hoekom Engels in ‘n Afrikaanse koerant gebruik is.

Hy wil ook weet of die advertensies, wat net in Engels beskikbaar is, “daarop gemik is om voornemende Afrikaanse kandidate te elimineer.”

“Dit word by die dag duideliker dat die ANC Afrikaans en die Afrikanerkultuur vandaliseer,” het Van der Merwe gesê.

“Dit gebeur nie net met ons taal nie, maar ook met ons Afrikaanse skole wat in Engelse skole verander word.”

Korrespondensie deur staatsdepartemente word amper eksklusief in Engels uitgevoer. Skaars 1% van hofverslae is nou in Afrikaans, terwyl dit in die verlede byna 50% was, het hy bygevoeg.

Die ANC kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Фільчаков Олександр Васильович

Maak 'n opvolg-bydrae