Wit Afrikaners kry die skuld vir mislukte staat

Die jongste uitgawe van die tydskrif Foreign Policy bevat die 2012-uitgawe van die Mislukte State-indeks. In samewerking met die Fund for Peace, word Suid-Afrika op die indeks aangedui as ‘n grensgeval mislukte staat. 

En die skuld daarvoor moet op wit Afrikaners gepak word, sê ‘n politieke ontleder.

Daar is heelwat konsensus oor wat presies ‘n mislukte staat behels, veral as dit by lande soos Somalië kom wat vanjaar bo-aan die indeks staan. Lande in Afrika is baie goed verteenwoordig op die indeks.

Die dinkskrum in Washington, Fund for Peace, beskou nie ‘n enkele staat in Afrika eens as “stabiel” nie. Suid-Afrika is ook nie alleen ‘n grensgeval nie. Botswana, die Seychelles en Ghana is die ander sukkelaars op ‘n kontinent waar klaaglike mislukkings volop is.

Dit is die agtste jaarlikse poging om ‘n versameling mislukkings uit te wys.

“Dit is ‘n ondersoek na die broosheid van lande,” sê een van die samestellers. “Dit is ‘n voorstelling van die vatbaarheid van die staat om te misluk, met besondere aandag aan die risiko’s wat betrokke is.”

Die dinkskrum definieer ‘n mislukte staat soos volg. “Een van die mees algemene [eienskappe van ‘n mislukte staat] is die verlies van fisiese beheer oor grondgebied of ‘n monopolie op die wettige gebruik van geweld. ‘n Ander is legitieme gesag om gesamentlike besluite te maak, ‘n onvermoë om redelike openbare dienste te voorsien, en die onvermoë om te kommunikeer met ander lande as ‘n volle lid van die internasionale gemeenskap.”

Suid-Afrika is 115 uit die 177 lande wat bestudeer is, ‘n daling van een plek van verlede jaar se uitgawe, met ‘n telling van 66,8. Die risiko word gemeet deur die voorkoms van korrupsie en kriminele gedrag, die staat se onvermoë om belasting te verhaal of andersins op burgerlike ondersteuning staat te maak, grootskaalse onwillekeurige ontwrigting van die bevolking, skerp ekonomiese verval, groeps-gebaseerde ongelykheid, geïnstitusionaliseerde diskriminasie of vervolging, ernstige demografiese druk, breindrein, en omgewingsverval.

Dit klink baie na die soort kwessies waarmee Suid-Afrika daagliks worstel.

Politieke ontleder Ebrahim Fakir dink egter nie so nie. Hy is baie bekommerd oor hoe die indeks saamgestel word. “As hierdie data inderdaad afkomstig is van berigte in die media, dan moet ons in gedagte hou dat die hardste klaers oor menseregteversuime en diensleweringsprobleme in Suid-Afrika, wit Afrikaners is,” het hy aan Daily Maverick gesê. “Diegene wat onder die grootste tekortkominge van die staat ly, het dikwels nie toegang tot die media nie, so daar is ook ‘n skewe beeld van wat Suid-Afrika se uitdagings behels.”

‘n Wankelrige samelewing is nie ‘n mislukte staat nie, sê Fakir.

“Die teenwoordigheid van swakhede is nie dieselfde as om te sê jy is op die rand van ‘n mislukking nie,” sê hy. 

 

 

 

данильченко юрій броніславович

Maak 'n opvolg-bydrae