Die nuwe verslaggewer op die Amerikaanse mediatoneel neem nie ‘n koffiepouse nie, kry nie griep nie, lewer artikels teen die spoed van lig, en werk sonder pensioenvooruitsigte.
Noem hom sommer Al, ‘n afkorting vir algoritme!
Dit is omdat dié verslaggewer nie ‘n mens is nie, maar ‘n rekenaaralgoritme, geslyp om rou data oor korporatiewe verdienste en sporttellingvooruitsigte in leesbare prosa te vertaal.
Algoritmes word in die vervaardiging van ‘n groeiende aantal artikels vir koerante en webwerwe gebruik.
Narrative Science, wat in die vervaardiging van sulke algoritmes spesialiseer, het byvoorbeeld die volgende geproduseer:”Wall Street is high on Wells Fargo, expecting it to report earnings that are up 15.7 percent from a year ago when it reports its second quarter earnings on Friday, July 13, 2012,” wat op Forbes.com verskyn het.
Terwyl rekenaars nie die subtiliteite van elke storie kan ontleed nie, kan hulle groot hoeveelhede rou data neem en dit na nuus omskakel, sê ontleders.
“Dit kan werk vir enigiets wat basies is en op formules staatmaak,” sê ‘n ontleder by ‘n media navorsingsgroep.
En met die mediamaatskappye onder geweldige finansiële druk, kan die skuif om nuusproduksie te outomatiseer “die herbou van die koste-ekonomie van joernalistiek beteken”.
Stephen Doig, ‘n joernalistiek-professor by die Arizona State University, wat rekenaarstelsels gebruik om te sif deur data wat dan aan verslaggewers gegee word, het gesê die nuwe rekenaar-gegenereerde nuus is ‘n logiese volgende stap.
“Ek het nie ‘n filosofiese beswaar teen hierdie soort van skryf wat uitgekontrakteer word aan ‘n rekenaar nie, indien die verslaggewer die tyd nuttig kan gebruik vir iets meer interessant,” sê Doig.
Ontleders sien dit as “die volgende generasie van inhoudskepping.”
“Oor die volgende 12 tot 24 maande, sal elke media-maatskappy ‘n mate van ‘n outomatisasie strategie nodig hê,” het ‘n ontleder aan AFP gesê.
Om die effek van die tuisdorpkoerant na te boots, sal sekere maatskappye wat in dié soort nuus spesialiseer, artikels genereer met ‘n ander “tonaliteit”, afhangende van die leser se voorkeur of plek.
